89. Om te veel te weet…

dink

So, om weer swanger te raak het sommer vinnig gebeur. Die eerste maand was dit sommer so en hier sit ek nou reeds 14 weke swanger met baba nommer 2.  Ek was stil vir die afgelope 14 weke (jammer daaroor), maar alhoewel ek baie gehad het om oor te skryf, was ek bang.

Met Lisa was ek salig onbewus van al die gevare. Ek het gewag tot my tyd laat is en het toe 1 toetsie gedoen (en toe net nog 1 om te bevestig). Ek het geweet mens kan ‘n miskraam hê, maar dit was nie vir my ‘n vrees nie. Ek het geweet dinge kan skeefloop, maar dit sou mos nie met my gebeur nie, reg? Ek het die magdom swangerskapboeke gelees en my oog het vlugtig oor die probleme geloer, maar ek het gefokus op hoe groot my babatjie was en watter ontwikkelings weekliks plaasvind. Nooit het ek gewonder of dit wel gebeur nie, want als gaan mos perfek wees, reg?

Hierdie keer het ek altesaam 6 swangerskaptoetse gedoen. En vir die eerste 5 wat negatief was (omdat ek veels te vroeg getoets het), het ek vir die eerste keer ‘n klein bietjie begrip vir mense wat sukkel om swanger te raak. Ek het na elke negatiewe toets gevoel hoe my hart in my skoene val en hoe die opgewondenheid wat saam met die pakkie oopskeur en die wagtyd kom, verander in afguns en ‘n amper desperate negatiwiteit. En ek het gewonder hoe dit moet voel as jy dit elke maand vir jare moet doen sonder die gewenste resultaat.

Na die positiewe toets het ek nie dadelik ‘n foto van my maag geneem en 10 apps op my foon afgelaai nie. Ek het ook nie die familie en kie gebel en opgewonde gegiggel nie. Ek het gebid. Dadelik.

En binne die eerste 12 weke het ek gevrees om toilet toe te gaan. Wat as daar bloed is? Wat sal ek doen? Ek het gewonder hoe verskriklik dit moet wees om ‘n miskraam te hê (en wat ‘n TERRIBLE woord “miskraam” is!!! Ek is seker iemand kon ‘n mooier woord kies). Hoe doen mens dit om jouself weer bymekaar te kry na so iets en ek was elke keer wat ek by die toilet uitstap, dankbaar.

Op pad na die eerste scan was ek op my senuwees. Wat as daar een of ander genetiese defek is, wat as hierdie lyfie nie al die ledemate het nie, wat as, wat as. Ek het my asem opgehou toe die eerste prentjie op die skerm verskyn en toe ek die hartjie hoor klop het ek eers uitgeasem.

Dis snaaks hoe mens weet wat jy MOET dink en jy weet wat jy MOET voel en jy weet wat jy MOET doen, maar dis so moeilik om dit reg te kry. Ek het geweet ek moet vertrou, en ek het geweet ek moenie bang wees nie. Ek weet God is groot en ek weet Hy is in beheer. Ek glo hierdie swangerskap sal geseënd wees en ek weet ek moenie met vrees dink nie, maar tog doen ek.

Ek het nie die keer weer gehoop dis ‘n seuntjie nie. En ek was effens bang dat dit wel is, want op 28 weke is dogtertjies baie sterker. En toe, so waar, verwag ons wel ‘n boetie-baba. En alhoewel ek alle vertroue het en elke dag bid, is ek  bang…en ek dink miskien is bangwees soms ok.

download

Advertisements