94. Diep Donker PERS

20171117_070232.jpg

Vandag is World Prematurity Awareness Day en natuurlik dra ek vandag pers. In die verlede het ek op hierdie dag lig gevoel. Lig omdat Lisa lewe. Lig omdat sy geen ernstige mediese kondisies het nie. Lig omdat ek ‘n oulike 3 jarige het wat monkey bars doen en swem. Lig omdat ek wonderlike mediese personeel op hierdie pad ontmoet het en dankbaar vir ware vriende wat ek gemaak het. Maar vandag voel my hart ‘n donker en diep pers.

Ek dink aan my vriendin wat ‘n tweeling verwag het wat op 28 weke gebore is. My hart is so dankbaar dat sy een gesonde lieflike klein poppie huis toe kon neem, maar ek kry trane in my oë omdat sy haar ander dogtertjie nooit kon leer ken nie.

Ek dink aan ‘n goeie maatjie wat op 24 weke moes sien hoe haar seuntjie sy eerste en laaste asem in neem. Ek is ook dankbaar dat sy tans ‘n dogtertjie verwag, maar my hart sien vandag weer vir die soveelste keer haar hartseer raak.

Ek dink aan die naamlose vrou wie se babatjie in die NICU langs Lisa was. Daai piepklein lyfie wat net een oggend skielik nie meer daar was nie.

Ek dink aan ‘n mamma wat ek deur ons storie op Facebook ontmoet het wat na 9 maande nogsteeds met haar kleintjie in die hospitaal is. NEGE MAANDE van elke dag in ry. Van elke dag sien hoe jou klein vegtertjie moet baklei. Van bang wees en bid. Van glo en hoop en vertrou dat die volgende dag beter sal wees.

Ek dink aan die ongelooflike spesialiste wat daagliks moet sien hoe van hierdie kleintjies dit onder hulle sorg nie maak nie. Hoe pediaters en susters elke dag doen wat hulle doen om hierdie kleintjies te red, weet ek werklik nie.

En vandag dra ek pers nie net vir die prem babatjies wat oral om ons rondloop en leef nie, maar ek dra pers vir die wat dit nooit huis toe gemaak het nie. Ek dra vandag op aan hulle mammas en pappas wat nie ‘n foto van hulle wonderwerkbaba op Facebook kan plaas nie. Ek bid vandag dat julle harte sal heelword

Vandag ondersteun ek die www.newborns.org.za van Grootte Schuur Hospitaal www.facebook.com/newbornstrustSA Ek dra my armbandjie en koop my sticker. Elke bietjie wat hulle kry, gaan om te sorg dat daar meer babatjies huis toe kom en dat die donkerpers weer lig word.

20171116_140203

 

 

Advertisements

70. Lente in ‘n reënjas

lente 3.jpg
Lente was nog altyd my gunsteling seisoen en ek is absoluut gek oor bloeisels en die feit dat die son al skyn as ek werk toe ry. Ek raak kinderlik opgewonde as ek soggens in my bed lê en die voëltjies kwetter in die boom langs my ruit. Dis een van die groot redes hoekom ek beplan het dat Lisa in September gebore sou word…’n lekker lente-baba.

Maar soos die lewe maar vir ons “curveballs’ gooi, werk dinge mos nie altyd uit soos beplan nie. En dié naweek is ek weer daaraan herinner. Ek het gaan fliek (vir die eerste keer in 3 jaar!) en die titel van die nuwe Afrikaanse rolprent: Sy klink soos lente het dadelik my aandag getrek. Terwyl ek in die fliek sit, sak ‘n helse reënbui op die dak uit (daai middel van die winter tipe reën). Ek kon nie help om bietjie hardop te begin lag nie. Hoe ironies? Hier is ‘n fliek oor die lente wat uitgekom het in die hartjie van die lente en hier reën dit so hard dat mens skaars die akteurs kan hoor.

 

lente-1

Enter a caption

Maar is dit nie maar presies hoe dit is nie? Daardie bruid wat haar troue in Oktober beplan het om doodseker te maak dat dit nie reën nie, word wakker met ‘n donderstorm bo haar kop. Die paartjie wat met afwagting en opgewondenheid in gaan hospitaal toe, stap uit sonder ‘n baba. Die dag van die onderhoud vir jou droom werk, breek jou kar. Die ma wat haar babatjie in September beplan, se baba word in Junie gebore.

Soms wonder ek hoekom dinge met sekere mense gebeur. Daardie hoekom woordjie wat GELUKKIG nog nie in Lisa se woordeskat is nie, gebruik ons tog so baie. Hoekom moes dit met my gebeur? Hoekom kanker? Hoekom alweer? Hoekom het hy haar gelos? Hoekom so vroeg? Hoekom juis met haar? Hoekom kan dit nie beter gaan nie? Hoekom moet ons so sukkel? Hoekom juis nou? Hoekom Here? Hoekom?

En dan besef mens maar net weer. Die lewe het 4 seisoene. Soms gaan dit wonderlik en die son skyn, maar soms is dit koud en donker as mens soggens wakker word. En soms is die seisoene self ‘n bietjie deurmekaar soos nou…dit reën in die lente, of soos dié jaar selfs sneeu. En dan moet ons maar net vashou aan die bietjie son wat ons elke dag kry. Soms help dit ook om te dink dat as die son nie hier by jou skyn nie, dat dit wel iewers anders in die wêreld skyn en dat jou beurt sal kom.

God se plan is soveel groter as ons planne. Daar is ‘n rede vir die reën en daar is ‘n antwoord vir al jou hoekom-vra. Al kan jy hulle nie nou antwoord nie…hou vas, glo en vertrou dat die son wel weer sal skyn en dat jou vel lekker bruin gebak sal word in die hartjie van die somer. En as jou seisoene bietjie deurmekaar is, gaan haal maar weer daardie reënjas uit die kas uit en trek aan jou gumboots, want die keer dans ons in die reën.

 

lente-2

 

67. Maak jou tjorretjie vol!

1

Inspirasie is vir my ou lewenstjorretjie soos petrol. Ek moet elke nou en dan volmaak om eers weer vir ‘n tydjie te kan ry. Vir ‘n paar weke brand my petrolliggie al en ek kom ruk-ruk soggens by die werk aan. Maar vandag is volmaakdag en ek is GEiNSPIREERD!

Vanoggend het ons ons wekkers vir 2:45 gestel en vroeg opgestaan om te sien hoe Wayde van Niekerk die 400m wêreldrekord breek en ‘n hele nasie sommer net so binne 43.03 sekondes inspireer. Hy het die wêreld se harte gesteel en baie mense met trane van trots gelos.

My hart het hy egter verlede jaar al gesteel toe ek hoor dat hierdie merkwaardige outjie van die Kaap kom en dat hy, soos Lisa, ook ‘n preemie was. Om te dink dat hy ook sy eerste paar lewenswekies in ‘n broeikas in Grootte Schuur deurgebring het, het onmiddellik my aandag getrek en ek het sy reis na die Olimpiese Spele aandagtig begin volg.

2

Wat vir my so ongelooflik van Wayde is, is sy nederigheid. Dat hy altyd sy bes gee, maar nie grootkop kry nie. Hy bly steeds die cool, vriendelike plat-op-die-aarde “Capie” met ‘n onskuldige glimlag. En wat my asem heeltemal weggeslaan het, is toe hy aan die begin van die jaar R500 000 aan die Newborn Trust by Grootte Schuur geskenk het. Dat hy weet waar hy vandaan kom en dat hy teruggee vir sy gemeenskap, het my werklik geinspireerd laat voel.

Ek hoor so baie dat mense sê  Lisa se storie inspireer hulle. Dan voel ek warm en lekker in my hart. Om te dink dat my tawwe klein dogtertjie dit regkry om ander mense te inspireer, is vir my ongelooflik. Ek is so opewonde om haar eendag as sy bietjie groter is, van Wayde te vertel. Van hoe hy ook ‘n klein ou dingetjie was. En hoe hy nou al die ander vet babas uitstof en rekords breek en beroemd geraak het. Ek sal haar vertel van sy omgee hart en hoe hy nie gaan lê het toe mense hom kritiseer het nie. En ek hoop dit inspireer haar om ook groot drome vir haar klein lyfie te begin vorm. En ek kan nie wag om te sien wat sy eendag as sy groot is gaan doen nie!

2016 sleepover 1309

Inspirasie-stasies is oral om ons. Soms is dit in die groot oomblikke wat op tv verskyn en soms is dit ‘n klein woordjie wat oor jou gespreek word. Soms vind jy dit in ‘n liedjie en soms op die strand of in die woud. Soms vind jy dit in ‘n boek en soms moet jy dit op die langpad gaan soek. Daar is tye waar jy heeltemal ongeinspireerd voel, maar dalk is dit juis dié tye waar jy ander kan inspireer. Ek daag jou vandag uit: Vind jou inspirasie  en inspireer iemand om jou!  En maak seker jou tjorretjie is volgemaak, want wie weet…miskien gaan die prys weer binnekort op. images

 

 

58. SIEK en sat vir siektes!

224d2ed6d4c884f9548ae1dc2be96277d1a552c72d6f668358c1373a580653c4

Ek het altyd geweet Lisa gaan siek word, maar ek het gebid en gehoop dat die siekgoggas vir so lank as moontlik weg sal bly. Aangesien haar immuunstelsel soveel laer is as gewone babatjies, was die hele SIEK-ding seker onvermybaar. Een van die groot redes hoekom ek so lank (al was dit glad nie maklik en lekker nie) geborsvoed het, was juis vir daardie rede…om haar immuunstelsel soveel as wat ek kan, kan aanhits.

Maar, soos dit seker maar moet werk, het Lisa (soos alle normale babatjies) siek geword. Dit is snaaks hoe mens optree as jou kind vir die eerste keer siek is. Mens voel skielik so dom en magteloos. Ek het al baie gehoor van ma’s wat net skielik in die middel van die nag wakker word met ‘n kind met ‘n koors van 40grade of hulle gooi op of hulle hoes heelaand.

Ons eerste siekwees was bietjie anders. Lisa het stelselmatig siek geword. Dit was nie oornag nie en dit was nie skielik nie. Sy het eers ‘n snotneusie gekry wat net so bietjie geloop het. Na ‘n paar dae het sy ‘n hoesie ontwikkel (seker van die snotterigheid). Na nog ‘n paar dae het sy met hoë koors begin. En toe een oggend word sy wakker met ‘n vreeslike veluitslag. En so, stadig maar seker, het hierdie bietjie siekerigheid verander in ‘n ernstige “O-hel-my-kind-is-nou-regtig-siek”-oomblik.

As werkende ma was dit vir my die ERGSTE ding ooit! Om ‘n siek kind wat skree en nie lekker is nie af te laai en te gaan werk was vir my veel erger as daardie eerste dag terug by die werk. Dit is al wanneer ek die HAAT om te werk.

3981239b8e15efa00a59b9d83795f07d

Die probleem met siek babas is daardie moeilike besluit: Wanneer gaan jy dokter toe? Volgens sekere artikels moet mens dadelik ER toe jaag as jou kind ‘n bietjie koors het. Vir sommiges moet jy weer wag tot die koors 2 of 3 dae aanhou. Maar tot vandag toe is daardie besluit nogsteeds vir my die moeilikste. Hou ek haar by die huis en sy gaan in skok of kry stuipaanvalle of sy hou op asemhaal of of of, sal ek myself nooit vergewe nie. Gaan ek elke keer hospitaal toe en kry later die omgerolde oë van die susters en pediaters wat saggies agter jou rug fluister en woorde soos “helikopter-ma” en “oorreageer” wat net-net hoorbaar is.

Ons het vinnig geleer hoe Lisa is wanneer sy siek is. Dit is ongelooflik hoe elke kind anders is. Party babas is dodelik siek wanneer hulle koors net bo 37.5 is. Ander het weer ‘n baie hoër vlak van toleransie. Lisa sal met ‘n koors van 39 grade rondhol in die huis en dans en grappies maak. Maar hier van 39.5 af begin haar koppie hang en haar ogies raak vaal. Dit is dan wat ons begin bekommerd raak. Want dis dan wat ons regtig weet: Lisa is nou siek. Lisa het ook nie “normale” simptome nie, so ons vind eers na bloedtoetse uit wat regtig met haar fout is.

20150622_143912

Ons het ook gou geleer dat die dokters baie meer tegemoedkomend is wanneer dit by prem babatjies kom. Ek was soveel keer by die hospitaal met haar en hulle het my nie een keer laat voel asof ek oorreageer of simpel is nie. Die dokters het my darem ook al teen die tyd op die naam gegroet en na twee maande in die hospitaal geweet dat ek nie sommer oorreageer nie. Die een dokter het eenmaal vir die suster gesê: “You have to understand…this is a mom that underreacts. So when she arrives here…you have to know that it is very very bad.” Dit was vreemd hoe mens sekere goed wat mense sê nooit vergeet nie. Ek onthou hoe ek vir ‘n tydjie gewonder het of ek dalk bietjie meer bekommerd moet wees as Lisa siek is. Miskien  moet ek net “react”…nie “under” of “over” nie… maar net gemiddeld. Maar hoe doen mens dit. Jy volg tog maar net jou hart en dit is moeilik om sulke veranderings te maak.

As kinders was ons nie sommer dokter toe nie. Jy het ook nie sommer net by die huis gebly as jy siek voel nie. Jy moes dit maar net vat en aangaan. En dit is iets wat ek op skool gehaat het, maar vandag heg ek baie waarde aan hierdie opbrengs. Ek was van vroeg af geleer dat mens nie sommer net ‘n ‘sussie’ moet wees nie, maar dat jy baie tawwer is as wat jy dink. En hiervoor is ek dankbaar. Maar met Lisa, moes ek leer om meer en meer dokters te vertrou en maar my tawwe-boere-trots te sluk en hospitaal toe te gaan.

Sy was teen die tyd wat sy 1 was, 4 keer erg siek. Elke keer iets anders, dubbeloorontsteking, sinusitis, griep, hand-voet-en-mond,  ens. Elke keer moes ons antibiotika kry. Antibiotika is glad nie my beste vriend nie, maar nadat jy alle moontlike krui/boere/homeopatiese raad gevolg het en nogsteeds met ‘n pap kind sit, was antibiotika maar daar. Elke keer het ons maar ‘n ander tipe antibiotika probeer sodat sy nie te veel skade lei nie.

En toe rondom haar eerste verjaarsdag was Lisa weer lelik siek. Siek-siek. Ek het haar ingevat en die dokters was baie bekommerd.  Sy het ‘n uitslag wat soos breinvliesontsteking lyk en hulle wou dadelik ‘n lumber puncture doen. My kop het in alle rigtings gehol en ek het sommer kliphard gebid. Die dokter het begin lag en toe maar net vir my ‘n drukkie gegee. 4 dokters se opinie later en ons is ingeboek vir obserwasie. Bloede is getrek en weggestuur en Lisa is op ‘n drip gesit.

Ek onthou hoe ek heeltyd gedink het dat dit presies ‘n jaar later was en hier sit ek weer. In dieselfde hospitaal. Ek hoop dat dit nie ernstig is nie, en ek hoop dat die net vir een aand is. Ek sien dieselfde gesigte en eet dieselfde kos en dit verbaas my hoeveel rou emosies ek nog aan die hospitaalgang en die masjiene se gebeep gekoppel het. En net daar huil ek, want skielik besef ek…ek is siek en sat vir siektes.

20150624_161137

57. NUWE jaar, NUWE jy…nuwe MA!

imagesCADS1AIN Dis die 31ste Desember. Die laaste dag van die jaar. Môre is dit NUWE jaar! Die eerste dag van 2016!

NUWE is so ‘n mooi woord. Dit beteken so baie. As jy ‘n nuwe rok gekoop het, kan jy nie wag vir ‘n geleentheid om dit te dra nie. As jy ‘n nuwe resep raakgelees het, hoop jy dat iemand kom kuier sodat jy dit kan uitprobeer. As jy ‘n nuwe baba het, wil jy hom/haar vir die wêreld wys. NUWE is lekker, want dis ‘n ekstra toevoeging tot ons normale, vervelige lewe. Dit is ietsie spesiaals wat net vir ‘n kort tydjie NUUT kan wees…en voordat jy jou oë uitvee, is die nuut nie meer nuut nie en is dit ook maar vervelig en normaal.

Verlede jaar was vir ons ekstra NUUT. Dit was die eerste Nuwe jaar met ‘n NUWE baba. Dit was spesiaal en anders. Ons het glad nie ‘n groot dronkword-partytjie gehou nie. Ek het geborsvoed en Lisa was min lus vir vroeg gaan slaap. Ons was by ons vriende se VEGAS-poker partytjie en het opgedress en saamgespeel. Maar ons was nie lus vir kuier nie. Ons was lus vir rustig dink oor al die dinge van die afgelope jaar. Al die slegte en die goeie goed en ons wou rustig daaroor gesels en in dankbaarheid stilraak. En ons het op die 1ste tyd gehad om net te reflekteer oor die jaar. 10603729_10155172391385179_4413860247148855240_n

Elke jaar maak ons maar almal nuwejaarsvoornemens. Al sê ons ons doen nie, maak ons maar almal saggies in ons hart ‘n paar: “Hierdie jaar gaan ek minder soetgoed eet”, “Hierdie jaar gaan ek meer tyd aan oefening spandeer”, “Hierdie jaar gaan ek minder vloek”, “Hierdie jaar gaan ek meer tyd maak vir goeie vriende”, “Hierdie jaar gaan ek meer kerk toe gaan” en so gaan dit aan. Elke voorneme het gewoontlik ‘n meer of ‘n minder gekoppel daaraan. Meer tyd, minder eet, meer oefen, minder praat, meer glo, minder werk.

Dit is tog lekker om ‘n paar kilos te verloor en goed te lyk in jou klere. Dit is lekker om al daai feel-good-oefen-hormone te voel. Dit is lekker om gesond te eet en goed te voel. Almal hou daarvan om meer te kuier en minder te vloek. Ons WIL almal al hierdie goed doen…maar dit nie altyd so maklik nie.

En net soos die nuwe rok in die kas of soos die lekker resep, is die voornemens ook net vir ‘n tydjie nuut. Kort voor lank hang hulle saam met die ou rokke in die kas en wag ons vir die 31ste Desember om weer nuwes te maak. Ons eet gesond vir ‘n maand of twee (of soos ek en vele ander vir ‘n dag of twee). Ons vloek vir Januarie glad nie, in Februarie sê ons per ongeluk weer “fok” en teen Maart is dit weer die normale ou storie. Ons gaan draf of stap elke aand totdat die eerste reën val en dan is dit veels te koud om uit die huis te gaan en daar gaan die fiksheidsroetine ook. En dan sit ons en gee op omdat dit nog so ver is tot 31 Desember. En so gaan dit jaar na jaar. VOORnemens word binne ‘n paar weke AGTERnemens en ons vergeet daarvan en beweeg aan met ons lewens.

Hierdie jaar het ek besluit om geen voornemens vir myself te maak nie, want dit hou tog in elke geval nie. Iemand (sonder kinders) het my nou die dag gevra wanneer mens weer jou lyf terugkry nadat jy ‘n kind gehad het. En my antwoord aan haar was: “Mens is óf maer óf jy is ‘n ma…en mens kan nie albei kies nie.” En ek weet sy het gedink ek is mal en sy het gewonder wat dan van al die ander maer mammas. En miskien sal sy eendag verstaan. Verstaan dat dit lekkerder is om met jou dogtertjie in die tuin te speel as om te gaan draf. Dat dit lekkerder is om saam met haar ‘n roomys te eet as wat dit is om slaaiblare saam te eet. Dat dit lekkerder is om vir ‘n uur te kyk hoe mooi jou dogtertjie is as sy slaap as om situps langs jou bed te doen. Verstaan dat die gesprekke wat jy met vriende het skielik nie meer oor gewig gaan nie, maar oor mylpale, en hoe oulik jou kind is, en wat sy als aanvang. Dat ma wees al jou tyd op vat en dat jy dalk eendag weer sal dink aan jouself en jou lyf en jou hare.

Gelukkig is ‘n nuwe jaar ook tyd vir terugdink en reflekteer. Tyd om as ma stil te raak en te dink aan watter foute jy dalk deur die jaar gemaak het. En nie om jouself daaroor skuldig te laat voel nie, maar om nuut oor jou houding en “approach” te dink. So hierdie jaar maak ek net voornemens vir Lisa. Nuwe-ma-voornemens…en hier is hulle:

  1. Lisa gaan meer tyd buite in die modder en sand spandeer.
  2. Lisa gaan minder haar ma op haar selfoon sien.
  3. Lisa gaan meer uit haar maag uit lag vir haar ma se simpelgeid.
  4. Lisa gaan minder die woord NEE hoor.
  5. Lisa gaan meer toegelaat word om baba te wees.

En volgende jaar, miskien (groot miskien), sal ek weer aan myself dink. Maar vir nou is dit eers anders, want vir eers is ek net ‘n ma.As jy beplan vir 'n jaar

56. Dis KERSFEES!

IMG_1621

As ‘n klein dogtertjie was ek mal oor Kersfees. Ek kon nie wag dat my pa op die 1ste Desember die kersboom en versierings uit die garage gaan uithaal nie. Dan het ons die boom in die sitkamer opgeslaan en met moeite die liggies ontknoop en die boom versier. Ek onthou elke item…die liggies met die kersvaderkoppies, die doilie-engeltjies, die goue balle en elke keer as die presente onder die boom groei, het ons met opwinding gegiggel en skelm gaan voel wat binne toegedraai is.

My pa se werk het elke jaar ‘n groot kerspartytjie gehad. Almal moes geskenkies koop (waarvan ek toe nie geweet het nie, want ek het toe verseker nog geglo Kersvader maak die geskenke bymekaar) en voor die tyd vir Kersvader gee. Dan het hy met ‘n vreeslike gedoente met al die presente opgedaag. Een jaar was dit met ‘n brandweerwa en een jaar met ‘n hout sleë. Dié jaar was dit met ‘n helikopter. Al die kinders by die werk het nader gehol en opgewonde vir Vader Kersfees gewaai. Toe hy uit die helikopter klim, het hy iets in sy hand. Dit lyk soos ‘n houtkissie en soos hy stap roep hy heeltyd MY naam. Ek kon dit nie glo nie! Kersvader ken my naam?! Ek het skrikkerig nader gegaan en ek was geskok, senuweeagtig, bang en terselfde tyd opgewonde. In sy hande was my present…’n klein konyntjie!

Later (toe ek nie meer in Kersvader glo nie…en wanneer dit gebeur het,   kan ek glad nie onthou nie), het my ma my vertel hoe hulle gesukkel het. Ek wou niks anders vir Kersfees hê nie… net ‘n konyntjie. En wat ‘n probleem dit was om die lewendige hasie by my te kry. Hulle kon tog nie die hasie saam met die ander toegedraaide geskenke in die sak gooi nie. En hoe almal daardie dag niks met hulle duur Barbies en nuwe karretjies te doen wou hê nie, want almal wou ook skielik ‘n hasie hê. My ma het vertel hoe die hasie spotgoedkoop was, maar dit was die beste present OOIT!

Op die 25ste Desember 2013 het ons ‘n ander geskenk gekry. Ek het uitgevind ek is swanger. Dit was vreemd hoe my hart geklop het…amper nes die keer wat KersVader my naam geroep het. Ek was GESKOK. Alhoewel ek geweet het dat ons besig was om te probeer vir kinders…was dit die heel eerste maand. Ek het regtig nie verwag dat dit so vinnig gaan gebeur nie, en dit was bietjie van ‘n “o..koek, wat nou”-oomblik. Ek was ook SENUWEEAGTIG. Gaan ons dit kan doen? Hoe en wanneer sê ons vir ons ouers? Gaan almal om die tafel sien as ek nie my sjampanje drink nie? Daar was verseker ook ‘n tikkie VREES. Ek was bang vir die swangerskap. Bang vir wat die res van die familie gaan dink. Gaan hulle dink ons het te gou probeer? Gaan hulle bly vir ons wees? Wat as ons almal vertel en ons het ‘n miskraam? En dan natuurlik was daar OPWINDING. Ek en my man was vreeslik opgewonde. Ons is swanger! Ons gaan ‘n klein mensie hê!

En so is Lisa gebore en ons het die eerste 6 maande van haar lewe oorleef (hoe…weet ek nie, maar ons het dit gemaak). Vreemd dat my skoonpa wat glad nie van my kinderliefde (en dalk steeds grootmensliefde) vir hasies weet nie, Lisa se bynaam KONYNTJIE gegee het nie. En hoe ek dus vir die tweede Kersfees die beste present OOIT gekry het. Weereens ‘n klein ‘konyntjie’. En dit bring ons dan by Kersfees 2014…Lisa se eerste Kersfees.IMG_1642

‘n Goeie vriendin van my het Lisa se 3-6 maande Kersfees outfit al in Januarie by Woolies se uitverkoping gekoop. Min het ons geweet dat Lisa nog teen Kersfees nie eers in haar Newborn klere sal pas nie. Ons het maar net die bip van die pakkie gedra. Almal was skielik meer opgewonde oor Kersfees, want hierdie jaar was daar ‘n kleintjie in die familie. (In my skoonfamilie is dit die eerste kleinkind en by my familie is Lisa die eerste kleinkind wat in Suid-Afrika bly). Ons het Oukersaand by een familie spandeer en Kersdag by die ander. Nie dat Lisa dit sal onthou nie, maar sy het soveel presente gekry. Daar was weer by ons grootmense ook ‘n tipe opwinding en dit is ongelooflik hoe ‘n kind die hele gevoel rondom Kersfees weer terugbring.

Vir jare het Kersfees vir my net ‘n groot etery geraak. Ek het presente gekoop omdat ek moes en dit was nie vir my vreeslik lekker nie. Iemand het altyd baklei en dit was altyd ‘n ‘mission’ om ver te ry en in te pak en en en. Nou, met Lisa, was Kersfees weer Kersfees. Dit was weer ‘n tyd van dankbaarheid, ‘n tyd van feesvieringe, ‘n tyd van gee, ‘n tyd van hoop, ‘n tyd van liefde. Kersfees soos wat Kersfees moet wees.

Die Here het my met hierdie klein dogtertjie so geseën en ek het net weer opreg besef hoe ‘n groot opoffering dit vir God was om Jesus na die aarde toe te stuur. Dat dit die grootste geskenk moes wees. Hoe ongelooflik dit is dat daar ‘n klein babatjie in Bethlehem gebore is. In ‘n stal, sonder hospitale en mooi beddegoed. Dat daardie babatjie se pad vorentoe in baie detail beplan is en hoe daardie babatjie as ‘n grootmens vir ons aan die kruis gesterf het.

Ek hoor soveel keer dat Kersfees eintlik nie ‘n Christelike fees is nie en dat dit maar net ‘n geldmaakstorie is. En dit is dalk waar, maar Kersfees is soveel meer as net dit. Dit is ‘n tyd waar families bymekaar kom en saam kuier en lag. Dit is ‘n tyd waar mense vir mekaar geskenkies gee…en dit hoef nie duur te wees nie…dit gaan oor die gee.

Kersfees is ‘n gevoel. Dit is daardie “fuzzy” gevoel wat jou soms tranerig maak. Dit is daardie effens langer drukkie van ‘n ouma of oupa wat jy nie elke dag sien nie. Dit is die klank van Boney M in die winkels. Dit is daardie reuk van die boud in die oond. Dit is die smaak van die braaiaartappels en die trifle. Dit is die ontmoeting van sagte glimlaggende oë rondom die etenstafel. Dit is die onthou van die wat nie meer daar is nie. Dit is die aanvaarding van elkeen se gawes en persoonlikhede. Dit gaan oor die beloftes en seëninge wat ons elke dag ervaar. Dit gaan inderdaad oor ons geloof, en as dit nie Christelike waardes uitbeeld nie, dan weet ek nie.

Ek het myself daardie aand bevind waar ek in ons bed lê en bid dat Kersfees vir Lisa altyd ook so ‘n spesiale tyd met God sal wees. En dat sy dit eendag met haar kinders ook kan deel soos wat ons ouers met ons gedeel het. En ek het gebid dat ek eendag vir haar ook ‘n konyntjie sal kan gee.

Mag Kersfees 2015 vir julle almal ‘n opregte tyd wees. ‘n Geseënde Kersfees en nie net ‘n “Merry Christmas” soos die Engelse sê nie. Mag julle opnuut die Kersfeesgevoel ervaar en mag dit julle nader aan God bring.IMG_3347_resize

 

 

 

 

 

 

49. Rof, rowwer, rofste

20150829_123829

Terwyl ek swanger was het ek baie na ander ma’s gekyk en het myself as ‘n ma probeer indink. Gaan ek een van daardie ma’s wees wat soos ‘n helikopter om hulle babas is? Gaan ek een van daardie ma’s wees wat oorbeskermend is? Gaan ek omgee as ander mense my kind sommer net optel? Gaan dit my pla as mense my kind sommer net enige kos voer? Ek het toe al besluit dat ek my baba nie wil op piep nie en dat sy ‘n tawwe, rowwe meisie moet wees. Maar in my kop was ek skrikkerig, want was as dit anders is as ek eers actually ‘n ma is.

Toe Lisa so klein gebore is, het ek in die hospitaal ook weer baie daaraan gedink. Nou, dat haar immuunstelsel vreeslik swak is…nou, dat sy so higienies behandel moet word…nou, dat sy so broos is…nou, dat sy so klein is. Gaan ek nou anders met haar moet wees? Gaan ons haar nou in watte toedraai? En gaan ons haar heeltyd probeer beskerm?

Iets wat ek seker al ‘n miljoen keer gehoor het, is: “Jis, maar julle is rof met haar!” Aan die begin het ek sleg gevoel as mense dit sê. Ek en my man het mekaar later afgevra of ons regtig SO rof met haar is? Aan die begin, het ons nie gedink ons is ROF met haar nie. Ons was net ouers. Dit is asof ons gesien het hoe sterk sy in die hospitaal was en ons het gesien dat sy nie sommer gaan breek nie. En ons was so gewoond aan haar “klein”-heid…wat toe al eintlik vir ons “groot” was. Maar vir ander mense was sy bitter klein en hulle kon nie verstaan  hoe ons haar so gemaklik hanteer nie.

Sy was lig en ons het haar sommer soos ‘n rugbybal (met een hand) vir mekaar aangepass. Ons het haar partykeer sommer so oor die tafel vir mekaar aangepass. As ek nou daaraan dink, verstaan ek 100% hoekom ons “rowwe” ouers is.  Maar sy was ook nie meer ‘n pap baba nie (alhoewel haar gewig kleiner as ‘n normale newborn was). Haar nekkie was al lankal sterk en sy kon al haar kop mooi beheer. En vir ons was sy al regtig groot.

20150801_112243

Ek is dankbaar dat ons op die ou ent nie verander het in helikopter ouers nie en dat ons ROWWE ouers is. Want Lisa is soveel sterker as gevolg daarvan. Sy is mal oor sand eet. Mmmm. lekker mamma. Sy val haar self disnis en dan staan sy op en giggel en hardloop weer voort. Sy kap haar kop dat daar ‘n blou kol sit en dan huil sy so vir ‘n sekonde en dan gaan sy maar weer aan. As sy op haar siekste is, lag sy nogsteeds en hol nogsteeds die hele huis vol.

20150712_071432

Lisa se gunsteling tyd van die dag is as papa Rough House met haar speel. Sy is mal daaroor om op die bed gegooi (letterlik) te word. Sy lag uit haar maag uit as mens haar onderstebo tuimel of aan haar voete optel. Sy speel so rof met haar speelgoed dat sy hulle sommer vinnig breek. Sy klim en klouter orals en soms weet ek regtig nie hoe sy boop goed kom nie. Ek is so dankbaar vir al die engeltjies wat haar beskerm. Maar Lisa is mal oor haar ‘rowwe’ ouers, want sy is ook rof. Baie rowwer as ons.

20150819_172400

Nou die dag toe sê iemand weer iets vir my. Hy het gesien hoe sy op die rugbyveld by die skool agter ‘n bal rondhol, terwyl ek met my cheerleaders praat. Sy woorde het my laat dink. Hy het gesê: “She is so confident. The way she is not scared and just believes that she can do anything. I love your parenting style because it reflects in her.” En daar is dit. Deur sogenaamde ‘rowwe’ ouers te wees, het ons haar meer selfvertroue gegee. Dit het my so trots laat voel. Trots dat ons (alhoewel ons aan die begin getwyfel het of ons die regte ding doen) die regte tipe ouers vir ons baba dogtertjie is. Sy is nie bang nie, sy staan nie terug nie…want sy is die ROFSTE!