88. Wat die terrible two’s my geleer het.

18952559_10159198652850179_4887818001276375770_nVandag is ons wonderwerkkindjie ‘n volle 3 jaar oud. Die afgelope jaar het so vinnig verbygegaan dat ek eers ‘n bietjie moes stilstaan vanoggend en terugdink aan die jaar wat verby is.

Hier is ‘n lys van die top 20 dinge (daar is veel meer) wat ek hierdie jaar geleer het:

  1. As jou huis nie elke aand lyk asof ‘n orkaan hom getref het nie, is daar slegs twee redes daarvoor. Jou huishulp was die dag daar of julle was heeldag uit.
  2. Potty training vat nie net 3 dae nie. Ook nie net 3 weke nie. As jy gelukkig is 3 maande.
  3. Dit is nie so maklik soos die tannie in “daardie boek” sê dit gaan wees om die nagbottel weg te neem nie.
  4. Dit is soms makliker om ‘n rasta met dreads groot te maak as om jou kind se hare te kam.
  5. Om elke aand te was is overrated.
  6. Die ekstra R2 wat die Barney joghurt jou kos is ABSOLUUT die geld werd.
  7. Daar is baie kleure in die reënboog, maar PIENK kan saam met enige kleur gedra word.
  8. Dit is moontlik om ‘n unicorn, ‘n superhero, ‘n cutie pie, ‘n pirate en ‘n prinses op dieselfde tyd te wees.
  9. Dit is ‘n werklikheid om op te hou tel hoeveel keer jy poef op jou hande gekry het.
  10. Dieselfde tannie van “daardie ander boek” het gejok toe sy gesê het na twee slaap hulle in hulle eie bed.
  11. Die woorde van “Ring a Ring a Rosie” is eintlik: Ring a ring a rosie, a Focket Full of Fosey” maak nie saak hoeveel keer jy Pocket of Posey sê nie.
  12. Daar is ‘n verskil tussen die volgende prinsessies en net Lisa weet na watter prinsessie sy op ‘n spesifieke tydstip verwys: Barbie, Sopia of Sneeuwytjie.
  13. ‘n Baadjie is net ‘n baadjie as dit ‘n kappie met ore het, ‘n zip wat werk en sakke het. OBVIOUSLY!
  14. Peanut Butter toebies tel as snack, aandete, ontbyt en as ‘n vrug.
  15. ‘n Swembroek bo-oor ‘n sweetpak is heeltemal aanvaarbaar in die publiek solank dit ‘n Frozen karakter ophet alhoewel my kind nog nooit Frozen gekyk het nie.
  16. Drukkies met stywe armpies om jou nek is ongelooflik lekker.
  17. Soene waar daar twee vuil handjies op jou wange is, is kosbaar.
  18. Dieselfde soene en drukkies is steeds lekker al word dit gebruik as ‘n manipulasie tegniek.
  19. Dit is altyd die moeite werd om liewer jou foon neer te sit en met volle aandag na ‘n opgemaakte storie van drake en prinsessies te luister.
  20. Wanneer jy “Mamma, ek is lief vir jou” hoor sonder om dit eerste te hoef te sê, hou die wêreld net vir so ‘n rukkie op met draai.

Ek staan vandag met ‘n hart vol dankbaarheid. My emmertjie loop oor van liefde en opregte “In awe” oomblikke van God se absolute genade en liefde vir ons. Troublesome three’s…jy kan maar kom. 19105536_10159204746170179_4236237132091463812_n

Advertisements

87. Waai windjie waai!

windpomp.jpg

Ek dink my absolute versotheid op windpompe het as klein dogtertjie al begin op oupa en ouma se plaas. Daar was 3 GROOT windpompe onder die huis by die groentetuin en dit was een van my gunsteling plekkies op die plaas. As klein dogtertjie het ek daar gaan speel en later het ek saam met ouma gestap om vrugte te pluk. As tiener onthou ek hoe ek onder die een windpomp se skaduwee gesit en in my dagboek geskryf het. Die windpomp het my nog altyd ‘n gevoel van vrede gegee en om na die geluide te luister, het my altyd op my gemak laat voel.

Die week het ek bietjie met ‘n paar goed geworstel:  Hoekom is daar soveel geweld? Hoekom dink sommige mense dis ok om ander te verkrag en te vermoor? Hoekom moet ons so sukkel in Suid-Afrika?  Kan ons nie maar ook bietjie geluk kry nie? Hoekom moet party mense arm wees en ander in oorvloed lewe? Hoekom kan dit nie maar net reën nie? Hoekom moet ons altyd baklei? En ek was nooit die week stil genoeg om ‘n antwoord te hoor nie.

Gister lees ek weer die stukkie uit Jesaja 60 vers 22 raak: “n Windpomp gaan soek nie die wind nie. Hy staan en wag en weet die wind sal hom kry. Net so is dit met die mens. Hy wag op die Here, want hy weet op die regte tyd sal die Here doen wat hy belowe het.” Dit het my laat dink, maar steeds het ek nie gehoor nie.

Vanoggend toe ek werk toe ry, sien ek weer die mooiste sonsopkoms. En ek preek vir die soveelste keer vir die tienermeisie wat saam met my skool toe ry dat ons moet dankbaar wees vir wat ons het en hoe die sonsopkoms elke dag weer nuwe hoop gee. En toe ek uiteindelik my mond hou en vir ‘n oomblik die ongelooflike natuurskoon inasem, toe HOOR ek die Here se stem.

Partykeer is daar lang droogtes en dit gaan rof. Partykeer moet mens erg die sente tel en elke druppeltjie water spaar. Soms voel dit asof jy die slegste dag gehad het. En in sulke tye is die windpomp maar altyd daar. Hy staan met sy grootheid en wag met ope arms vir die wind om te waai. En soms kom die wind, maar soms nie. Maar die windpomp bly staan. Hy hol nie weg en gaan soek nie groener weivelde nie. Hy pak nie sy tassies en trek na ‘n ander land nie. Hy gee nie op op ‘n verhouding wat stukkend is nie. Hy bly staan en wag en hoop en bid. Want hy weet die wind sal kom.

My ma het altyd vertel hoe my boetie as babatjie in die kar na windpompe gekyk het en met sy vingertjie al in die rondte beweeg en saggies gesê het “Draai, draai, draai”. Mag jou windpomp altyd gereed wees om te draai. Mag jy vandag weer opnuut jou windpomp aan die gang hou en mag die water in jou damme binnekort oorloop. DRAAI DRAAI DRAAI!

86. Is jy reg vir weer probeer?

traumaMin mense verstaan werklik hoe trauma werk. Sommige beleef trauma slegs deur meegevoel wanneer hulle byvoorbeeld ‘n rowwe video kyk. En party kan moordtonele skoonmaak sonder om die trauma daarvan te voel.

Met Lisa wat 3 maande vroeg gebore is, het ek soveel trauma ervaar. En baie mense het vir my gesê dat dit nie traumaties is nie, want sy lewe en sy is ok. Ook dat dit nie traumaties is nie, want sy het geen operasies gehad of geen ernstige probleme nie. Ander het weer gevoel dat dit die ergste ding ooit was, en gevoel dat hulle nie so iets sal kan hanteer nie.

Een ding is seker…dit was anders as om iemand aan die dood af te staan. Ek moes elke dag vir 2 maande voorbereid wees vir ‘n piepklein babatjie wat dalk kan doodgaan. Ek moes besluit of ek met haar wil “bond” of nie. Raak ek lief vir haar, is dit erger wanneer sy dit nie maak nie. Hou ek terug, is ek nie ‘n regte ma vir haar nie. Ek moes elke dag by die hospitaal instap en my hart voorberei vir die ergste. Ek moes elke dag weer uitstap en bid vir die beste. Ek moes elke keer my asem ophou wanneer sy ophou asem haal. Ek moes luister hoe alarms en masjiene heelnag piep en skree en kyk hoe my klein babatjie veg vir haar lewe.  Alhoewel ek baie voorgegee het dat ek ok is, was dit vir my erg traumaties.

Ek het vir 2 jaar en 10 maande nog trauma ervaar elke keer as ek ‘n ooievaarstee moes bywoon. Ek het my “ek-het-alles-onder-beheer-gesiggie” aangehad, maar in my kop was ek afgunstig en negatief oor alles. Ek wou die opgewonde mamma aan haar arms ruk en goed sê wat al die negatiewe realiteite van wat verkeerd kan gaan tydens die res van haar swangerskap vir haar uitspel. Ek wou skree elke keer as iemand praat van hoeveel weke sy nog oor het en ek wou uithol as almal praat oor die babatjie wat op die beplande datum sal kom. Ek het geglimlag en mooi goed gesê en na al 8 babyshowers het ek dit net-net tot by die kar gemaak. Daar het ek in trane uitgebars en weer gehuil soos die eerste dag in die hospitaal.

Baby-Shower

Dit was snaaks dat babyshowers my laat knak het. Vandag praat ek met ‘n vriendin wie se man 6 jaar terug oorlede is. Hulle was maar kort getroud en dit het vinnig gebeur. Toe sy my sê dat sy sukkel om by troues gelukkig te wees vir die paartjie, het ek haar pyn verstaan. Maar net soos alles in die lewe kan trauma nie vir altyd jou lewe oorheers nie en moet mens weer mens word…al vat dit hoe lank.

Na 2 jaar en 10 maande het ek verlede maand ‘n babyshower bygewoon van ‘n vriendin wat ‘n tweeling verwag. En vir die eerste keer, was ek werklik vir haar opgewonde en werklik gelukkig. Ek het nie een lelike of negatiewe ding gedink nie en toe ek haar gelukwens was dit opreg en uit die hart uit.

In die kar het ek nie gehuil nie, maar met ‘n glimlag besef dat ek weer reg is. Reg is vir weer probeer. Reg is vir die moontlikheid van nog meer trauma. Reg is vir lewe…vir lewe leef en vir lewe gee.

 

85. Propvol plooie, maar vol lewe

2017-04-11_11.22.49Ek het in ‘n ouetehuis sonder ‘n dak grootgeword: die aftreedorpie, Strand. Daar was persgrys hare al in die mode vandat ek kan onthou. En nou bly ek in die pensioenparadys, Vishoek. Albei hierdie dorpies is bekend vir hulle ou mense, want albei is lekker naby groot hospitale, maar ook lekker “klein dorpies” by die see. Ek sien dus al van kleins af my “fairdeal” van ou tannies en ooms.
Ou mense is altyd mos maar bekend “grumpier” as jong mense. Hulle is die kwaai oom wat op ons geskree het as ons die krieketbal oor die muur geslaan het; die tannie wat jou daardie vuil kyk in die kerk gegee het as jy giggel oor iets simpel; die oumense wat net negatiewe kommentaar lewer oor die ‘jeug van vandag’en hulle kleredrag en houding (alhoewel ek al foto’s van my ouma in ‘n baie sexy mini-rokkie gesien het).
Vandag was ek weer vir ‘n slag gelukkig om hip-en-happening-tannies raak te loop. Mens sien hulle maar min en hulle hang gewoonlik in spesiale “oumens”-koffiewinkels of Dischem uit. Ek het vandag die coolste nuwe koffiewinkel in Vishoek gaan besoek. Die dekor is modern en ‘n koppie koffie kos soveel soos ‘n hele blik, maar daar is gratis Wifi en jy kry darem ‘n soetkoekie in jou piering. Langs my het twee ou tannies gesit (later het ek uitgevind dat hulle 78 en 81 jaar oud is). Hulle het gelyk soos tipiese ou tannies met pastelkleur broekpakkies en kort hare, maar my mond het oopgeval toe die een tannie haar laptop uit haar sak haal en vir die ander tannie ‘n video op Facebook wys.

Net daar het ek besluit dat ek meer van die twee oumas wil leer. Ek het die sosiaal onvaarbare, maar oral beoefende afluistermetode toegepas. Hierdie het my veral laat glimlag: “You know I will be married for 51 years on Friday…do you know how long that is? TOO LONG!” “OOOO…I wouldn’t mind having a man pick me up at the home in a Lamborgini.” “Why were you not at the protest? You really have issues with understanding your white privilidge…get with the programme or maybe move to Australia!” “I am considering trying this banting thing…are you in?” “When you meet him, remember to not mention your hip replacement…that will be a deal breaker.”
Is dit nie die coolste twee ou tannies ooit nie?! Hulle het slegs 1 gesprek gehad oor dood en dit was toe hulle gespot het oor iemand wat hulle ken wat nog tot die dag voor haar dood haar oggend swempie in die see gevat het. Hierdie twee tannies het vanoggend my oë oopgemaak vir die lewe…ironies…want hulle het eintlik nie meer veel lewe oor nie. Hulle het my laat besef dat ons besluit hoe ons wil oud word. En hulle het my inspireer en laat besef dat ek elke dag ‘n rol het om die generasie jonger as ons weer te inspireer. Ek wil ook ‘n cool ouma wees eendag, maar vir nou moet ek eers fokus om ‘n cool ma te wees.

84. Inspirasie mamma 2: Chantal Lategan

15025444_10155474767777468_7815151620523205884_oVandag is dit weer tyd vir ‘n Inspirasie Mamma! Dié keer ‘n redelike ongelooflike een, selfs vir ‘n mede-prem mamma. Vandag deel ek die storie van Chantal Lategan. ‘n Storie wat al selfs op Carte Blance was, maar vandag deel ek nie net die feite nie, maar ook die mamma-hart agter klein Allegra.

Chantal en haar man, Hennie bly in die Kaap. Hulle geniet dit om tyd saam met familie te spandeer en is gek oor ‘n rustige aand by die huis met ‘n goeie fliek en lekker kos. Voor Allegra se geboorte, was Chantal ‘n Gr. 4 onderwyser, maar is nou ‘n voltydse mamma (dus:  verpleegster, sielkundige, speelterapeut, onderwyser, hanswors, kunstenaar, kok, huishulp, ens).

Chantal se swangerskap was tot en met 22 weke sonder enige komplikasies en sy was dankbaar dat hulle Allegra een keer kon voel beweeg en dat haar man toevallig op daardie oomblik by was. Op  22 weke het haar water skielik een oggend gebreek en sy is op bedrus geplaas. 4 dae later is Allegra gebore en het slegs 515 gram geweeg en was ongeveer 25cm lank.

Chantal beskryf die dag as die ergste dag van haar lewe. Die trane van oorweldigende liefde en geluk wat mens tydens die geboorte van jou kind moet ervaar, is vervang met trane van vrees en wanhoop terwyl  haar dogtertjie wat veronderstel was om ‘n klein prinsessie te wees, as ‘n brose klein dingetjie weggevat word.FB_IMG_1490295806427

Nadat die eerste enorme skok van ‘n onverwagse mikro-premie verby is en die NICU reis begin het, was Chantal oorweldig deur die masjiene en mediese toerusting wat rondom al hierdie klein, brose, siek babatjies staan. Die drade, kabels en monitors wat almal aan die lewe hou, het haar angstig gemaak en haar onsekerheid vergroot. Sy onthou hoe sy gewonder het of klein Allegra ooit huis toe sal kan kom en of sy ooit sal groei en grootword. Of sy ooit die wêreld buite die hospitaal sal sien en hoe sy moontlik kan oorleef met al die ontwikkeling wat nog in die baarmoeder moes gebeur.

Vinnig het Chantal en Hennie gewoond geraak aan die vreemde mediese terminologie en in hulle 5 maande in die NICU het hulle ook besef wat die dokters bedoel wanneer hulle sê dit is ‘n “rollercoaster”-ride. Elke dag was daar iets anders. Nes sy goed doen, gebeur daar weer iets wat haar terugsit. Twee tree vorentoe…5 tree terug.

FB_IMG_1490295756151

As ma het sy het ook gesukkel met die hulpeloosheid waarmee soveel ma’s in die NICU worstel. Sy wou graag vir Allegra ‘n ma wees en haar versorg, maar ander mense moes besluite oor haar lewe neem en jy het geen beheer oor wat met haar gebeur nie. Sy is in die hande van medici en al wat mens werklik kan doen is daar wees en bid.

Sy het gesmag na ‘n lazyboy in haar kamer, want dit het beteken dat sy haar dogtertjie kon vashou. Sy moes met jaloerse oë toekyk  hoe ander mammas hulle babatjies kan KMC (Kangaroo Mother Care) terwyl hare nog hard baklei om aan die lewe te bly. Toe sy na 2 lang maande uiteindelik ook ‘n stoel in haar kamer kry en vir die eerste keer haar dogtertjie kon vashou, was daar sommer baie trane.

Chantal het besef hoe sterk die krag van gebed is en hoe mens bonatuurlike krag kry om die terugslae te kan hanteer. Sy het ook geleer dat mens ‘n goeie ondersteuningsnetwerk moet hê en wie haar ware vriende is. Die NICU reis is veral moeilik omdat niemand behalwe ander premmammas werklik verstaan waardeur jy gaan nie en mense kan soms baie onsensitief wees.

Chantal het vinnig agtergekom dat mens elke klein dingetjie moet vier om positief te bly. Ook hoe baie 5 gram gewig kan wees en hoe ongelooflik ‘n vuil doek kan wees as dit sonder mediese intervensie kon plaasvind. Dit het haar dankbaar gemaak vir die klein goedjies in die lewe. Sy het ook besef dat mens nie jou baba met enige iemand anders kan vergelyk nie en dat elke kind op ‘n ander tyd hulle mylpale sal bereik. Die gesegde “Children are like butterflies. Some are brighter than others. Some fly much higher than others. But each one is beautiful and unique in its own way”, is vandag nog vir haar van pas.

Chantal se raad aan ander mammas op die pad, is om nie skaam te wees om vir hulp te vra nie. Wees spesifiek as mense wil help en laat mense toe om te help. Vertrou dat die dokters die beste vir jou kind wil doen, maar vertrou ook jou eie mamma-intuisie. Vat dinge een dag op ‘n slag, selfs uur vir uur as dit nodig is. Huil as jy so voel, skree, lag, gee uiting aan jou emosies en moenie opkrop nie. Hou aan glo, bid en vertrou dat alles ok gaan wees, en God sal jou die krag gee om nog ‘n dag se uitdagings in die gesig te kan staar.

Chantal en Hennie se paadjie met prematuriteit het ongelukkig nie gestop die dag toe hulle by die NICU uitstap nie. Hulle het meer telefoonnommers van dokters, spesialiste en terapeute as vriende op hulle lysie. Allegra het baie gesondheidsprobleme gehad en is ook doof. Sy het kogleêre inplantings en hulle volg die verbale roete met haar spraak en gehoor. Sy is nou amper 6 en in Graad R, maar daar duik steeds gereeld uitdagings op.

Hierdie gesin glo verseker in wonderwerke en dit maak elke dag vir hulle makliker. Hulle is bewus van God se hand in hulle daaglikse lewe en hulle weet daar is ‘n rede vir als. Hulle het byvoorbeeld na toetse agtergekom dat daar ‘n virus in die plasenta was en dat Allegra nooit sou oorleef as sy nie vroeg gebore was nie. Chantal is dankbaar vir die proses waardeur hulle moes gaan, alhoewel dit nie glad nie maklik was nie. Dit is emosioneel en fisies uitputtend, maar wanneer sy die dag moed verloor, kyk sy net terug na hoe ver hulle reeds gekom het en hoe hard Allegra al moes baklei in die lewe. Dit gee haar dan weer die krag en motivering om aan te gaan en dankie te sê vir haar wonderwerkmensie. Chantal sukkel steeds om na vrouens met groot swanger magies te kyk en wonder gereeld hoe dit sal voel om ‘n babatjie te voel skop binne jou. Maar wanneer sy na Allegra kyk en sy haar klein armpies om haar nek gooi, weet sy dat sy die gelukkigste ma op aarde is. Allegra is presies wat haar naam beteken: vol lewe en geluk.

FB_IMG_1490295603729

 

83. Pienk fietsies en pap tyres

54.JPGLisa het so maand terug een oggend wakker geword en voordat sy eens hallo sê was haar woorde: “Pappa gaan vir my ‘n pienk fietsie koop, né Mamma; met ‘n helmet, né Mamma”. Net skielik het hierdie pienk fiets droom ontstaan en elke dag vra sy so ten minste 10 keer vir dié spesifieke pienk fietsie met ‘n helmet.

Die afgelope naweek was ons by ouma en oupa in Montagu en sowaar…daar haal oupa ‘n pienk fietsie met ‘n klokkie uit die stoorkamer uit. Nog nooit het ek Lisa so opgewonde gesien nie. Sy kon nie wag om te gaan “ry” nie. Sy het vir oupa ‘n groot soen gegee en daar is ons, met klokkie en al, die pad af om te gaan fietsry.

Maar soos meeste goed in die lewe was dit toe nogal nie so maklik nie. Sy kon glad nie verstaan hoekom die fietsie nie self vorentoe ry nie. Hoekom moet sy trap? En gou het sy agtergekom dat fietsry eintlik harde werk is. Sy het gehuil toe sy nie die pedale gedraai kon kry nie en die teleurstelling was op haar klein gesiggie geskryf.

Toe ouma besluit om haar toe maar vir ‘n uur in die pad op en af te stoot, het sy weer gelag en haar gate uit geniet. Arme ouma se voorkop was vol liefdesdruppels en haar rug was die volgende dag styf, maar stoot het ouma gestoot.42.JPG

Terwyl ek met my kamera staan en die hele petalje afneem, dink ek aan hoe simbolies fietry kan wees. Dat ons soms so bitter graag iets wil hê. Dat ons weke of maande of jare vra daarvoor,  bid daarvoor en wag daarvoor. Dan, as dit uiteindelik op ‘n skinkbord vir ons gegee word, wil ons nie die werk insit om die vrugte daarvan te pluk nie.

Dit het my ook laat dink aan die fiets met die pap wiel wat vol stof in ons garage staan. En dat ons soveel dinge in ons lewe het waarvoor ons voorheen gebid het, maar dat ons dit nou afskeep. Dat soveel van ons seëninge in die garage lê en stof opgaar.

Aan die einde van ‘n wilde eerste kwartaal voel my wiele ook bietjie pap en het ek verseker ‘n laag stof wat op my lê. Ek voel afgemat en kort weer ‘n bietjie polish.  Wel, vandag gaan ek weer probeer fietsry.  Ek gaan die regte fiets se wiel-oppomp vir my man los, maar my geestesfiets sal ek vandag weer ‘n slag bietjie Mr. Min.

En ek weet ek gaan dalk sukkel om al die bulte op te ry, maar trap sal ek trap. En as ek nie meer onthou hoe om te ry nie, sal ek vertrou dat God my “ouma” sal wees wat my sal lei en wat my sal leer hoe om dankbaar te wees vir ons gawes en hoe om te dien. Een ding is seker: die wiele kan mos nie altyd pap bly nie.

82. Eksieperfeksie

juggling_momIn Gr. 9 doen ek elke jaar met my klasse die gedig Eksieperfeksie, wat gaan oor ‘n gesin wat perfek is in alles wat hulle doen. Hulle lyk perfek, hulle oefen daagliks, hulle eet gesond, hulle presteer en is populêr en gelowig. In die laaste strofe vind mens dat hierdie druk om so perfek te wees die dogtertjie eintlik lei tot ‘n lae selfbeeld en eetversteuring en sien mens dat hulle eintlik glad nie so perfek is nie.

{Ek haat die woord PERFEK! Dit herinner my aan die woord prefek en dit het my nog altyd gepla dat die leiers van ‘n skool so na aan perfek moet wees. }

Die wêreld plaas soveel druk op ons om perfek te wees. Die media doen dit daagliks en almal streef na hierdie “perfekte” illusie. Hoe op dees aarde kan een mens in alles perfek wees?

Ons moet die perfekte ma wees. Dit sluit dus in dat jy die perfekte kok, perfekte dissiplineerder, perfekte speelterapeut, perfekte hanswors, perfekte sielkundige, perfekte vermaker, perfekte luisteraar, en, en, en, moet wees.

Dan moet jy natuurlik die perfekte vrou wees. Dit sluit weer in om perfek in die nuutste styl aan te trek, om perfekte hare te hê, om die perfekte huis te hê (skoon natuurlik), om die perfekte balans tussen werk, familie en vriende te handhaaf, om die perfekte lyf te hê, en, en, en.

Iewers hierin moet jy ook natuurlik die perfekte dogter wees vir jou ouers , die perfekte vrou vir jou man, die perfekte vriendin, die perfekte bestuurder, die perfekte kleindogter vir jou ouma en ouma, die perfekte kollega vir jou kollegas, die perfekte troeteldiereineaar vir jou diere, die perfekte kerkganger,  en, en, en.

Ek is nou so moeg net van dink aan al die druk wat daar op ons geplaas word, dat ek voel ek wil liewers nooit perfek wees nie. NIEMAND is tog perfek nie, maar om te laat gaan is nie so maklik nie.

Ek het nou die aand vir die hoeveelste keer Lisa se naels geknip. Toe ek steeds (vanaf haar gebore) nie bloed sien nie, was ek trots. Ek het toe vir myself gelag en gewonder watter belaglike ander standaarde ons nie ook vir onsself stel nie. Vir my voel dit elke keer wat ek nie daardie klein vingertjies wat wriemel en baklei teen die knippery raakknip nie asof ek Kilimanjaro geklim het. Ek bedoel dis nogals pretty perfek in my oë. images

So, van vandag af gooi ek  vir die soveelste keer die ideale vir perfek-wees by die venster uit. En ek gaan opreg net probeer om my kind aan die lewe te hou en ten minste een keer die week my hare te was. Ek gaan probeer om ‘n maksimum van 2 keer take aways te kry en ek gaan probeer om ten minste een item per dag van die vloer af op te tel. Dan gaan ek probeer om een super-perfekte-ninja-mens ding ‘n week te doen…net een. En dan gaan ek kyk hoe perfek my lewe werklik is.

Eksieperfeksie.