87. Waai windjie waai!

windpomp.jpg

Ek dink my absolute versotheid op windpompe het as klein dogtertjie al begin op oupa en ouma se plaas. Daar was 3 GROOT windpompe onder die huis by die groentetuin en dit was een van my gunsteling plekkies op die plaas. As klein dogtertjie het ek daar gaan speel en later het ek saam met ouma gestap om vrugte te pluk. As tiener onthou ek hoe ek onder die een windpomp se skaduwee gesit en in my dagboek geskryf het. Die windpomp het my nog altyd ‘n gevoel van vrede gegee en om na die geluide te luister, het my altyd op my gemak laat voel.

Die week het ek bietjie met ‘n paar goed geworstel:  Hoekom is daar soveel geweld? Hoekom dink sommige mense dis ok om ander te verkrag en te vermoor? Hoekom moet ons so sukkel in Suid-Afrika?  Kan ons nie maar ook bietjie geluk kry nie? Hoekom moet party mense arm wees en ander in oorvloed lewe? Hoekom kan dit nie maar net reën nie? Hoekom moet ons altyd baklei? En ek was nooit die week stil genoeg om ‘n antwoord te hoor nie.

Gister lees ek weer die stukkie uit Jesaja 60 vers 22 raak: “n Windpomp gaan soek nie die wind nie. Hy staan en wag en weet die wind sal hom kry. Net so is dit met die mens. Hy wag op die Here, want hy weet op die regte tyd sal die Here doen wat hy belowe het.” Dit het my laat dink, maar steeds het ek nie gehoor nie.

Vanoggend toe ek werk toe ry, sien ek weer die mooiste sonsopkoms. En ek preek vir die soveelste keer vir die tienermeisie wat saam met my skool toe ry dat ons moet dankbaar wees vir wat ons het en hoe die sonsopkoms elke dag weer nuwe hoop gee. En toe ek uiteindelik my mond hou en vir ‘n oomblik die ongelooflike natuurskoon inasem, toe HOOR ek die Here se stem.

Partykeer is daar lang droogtes en dit gaan rof. Partykeer moet mens erg die sente tel en elke druppeltjie water spaar. Soms voel dit asof jy die slegste dag gehad het. En in sulke tye is die windpomp maar altyd daar. Hy staan met sy grootheid en wag met ope arms vir die wind om te waai. En soms kom die wind, maar soms nie. Maar die windpomp bly staan. Hy hol nie weg en gaan soek nie groener weivelde nie. Hy pak nie sy tassies en trek na ‘n ander land nie. Hy gee nie op op ‘n verhouding wat stukkend is nie. Hy bly staan en wag en hoop en bid. Want hy weet die wind sal kom.

My ma het altyd vertel hoe my boetie as babatjie in die kar na windpompe gekyk het en met sy vingertjie al in die rondte beweeg en saggies gesê het “Draai, draai, draai”. Mag jou windpomp altyd gereed wees om te draai. Mag jy vandag weer opnuut jou windpomp aan die gang hou en mag die water in jou damme binnekort oorloop. DRAAI DRAAI DRAAI!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s