64. Ver-JAAR!

lisa 1 5

‘n Jaar is ‘n lang tyd…365 dae, 52 weke, 12 maande 8760 uur, 525600 minute en 3153600 sekondes (volgens Google 🙂 ) om spesifiek te wees. Ons is mal daaroor om JARE te vier…ons het Verjaarsdae, Nuwe jaar en Anniversaries. ‘n Jaar is ‘n soort mylpaal. Dit is asof jy ‘n ekstra goue sterretjie kry as jy ‘n JAAR behaal het.

Wel, gister was my Blogiversary…1 JAAR vandat ek met dié blog begin het. 365 dae! Flippit, maar dit klink soos ‘n lang tyd. Hoekom voel ‘n jaar dan soms nie so lank nie? Dit voel soos net nou die dag wat ek begin tik het en met bewende hande en ‘n hart wat uit my borskas hop ‘n Facebook status getik het…en my hart vir almal uitgespoel het.

My oorspronklike plan met die blog was dat ek Lisa se storie kronologies sou vertel totdat sy ‘n jaar oud is. En toe (somehow) het ek afgedwaal (seker maar die rebel in my) en sommer in die teenwoordige tyd geskryf en nou word Lisa oor ‘n maand en ‘n half TWEE en ek het nog nie eers oor haar eerste verjaarsdag vertel nie.

Lisa se verjaarsdag was vir my ‘n BIG DEAL! Ek was regtig soos ‘n kat wat vir ‘n week in ‘n boks toegemaak was…ek was emosioneel…omdat ek nie kon glo dat my babatjie, wat ons vir lank gedink het nie verby ‘n maand sou lewe nie, ‘n jaar oud is. Ek was opgewonde…omdat dit ‘n geleentheid was om te vier. Om met die mense wat vir ons lief is en om gee, te kuier. Ek was trots op klein Lisa wat so oulik geraak het en wat so baie liefde vir ons gee. Ek het soveel verskillende emosies ervaar, maar my hart was verlig en bly. EEN JAAR…en sy is nog lewendig en sy doen goed. SJOE…wel gedaan!

Op die Vrydag van haar verjaarsdag het ons ‘n High Risk afspraak by die dokters gehad. Ek en Francois het albei afgevat en toe sommer besluit ons maak hierdie dag spesiaal.  ‘n Goeie vriendin van my het vir ons 2 koeke gebak en ons het die eerste koek saamgevat na 2Mil hospitaal toe. Dis hier waar ons vir meer as ‘n maand was. Waar ons gehuil het, waar ons gesukkel het, waar ons bang was, waar ons opgewonde was. Hier waar die verpleegsters my so mooi ondersteun het. Hier waar Lisa van 1kg na 1.8kg gegroei het. Gram vir gram. En ons het saam met die arbeidsterapeut, fisioterapeut en pediaters Lisa se lewe gevier. Haar mylpale en die feit dat sy amper kon loop het ons opgewonde gemaak en my hart was warm van dankbaarheid en genade.

Van daar is ons met die tweede koek vir die eerste keer terug na Grootte Schuur. Ek het gedink ek was gereed. Dit is tog nie meer ‘n plek waaroor ek moet stres of waarvoor ek bang hoef te wees nie. Ons kom mos nou hierheen met ‘n oulike, gesonde babatjie. Maar tog, het ek gevoel hoe my spiere saamtrek toe ons in die parkeerarea stop. Dit was asof my gees geruk het soos ek deur die deure van die NICU stap. Die gebeep van die masjiene en die onvergeetlike reuk van die handsanitiser het my onmiddellik weer teruggesit. Dit was vreemd. Ek het sommer dadelik trane in my oë gekry…daardie trane wat net so skielik inskiet (net wanneer jy dink jy nie gaan huil nie).

Dit was wondelik om die verpleegsters en pediaters wat Lisa se lewe gered het weer te sien. Ons het saam gelag en gesels oor Lisa se vordering en hulle kon nie glo dat sy so goed doen nie. Ek het na al die ander mammas met hulle klein babatjies gekyk. In hulle oë kon ek twee dinge sien: VREES en AFGUNS. Ek wou na elkeen gaan en vir hulle ‘n groot drukkie gee. Een wat sê: “Ek verstaan en dit gaan ok wees.” Ek wou aan hulle verduidelik dat dit ok is om na my ‘vet’, ‘groot’ baba te kyk en kwaad te wees. Ek wou wegkom. Ek wou my GROOT kind wegvat uit hierdie plekkie. Ek wou dit nie vir die mammas nog moeiliker maak nie. Maar toe sien die dokter my hart raak. En sy vat vir Lisa en stap by die een kamer in en vertel haar storie vir die mammas. En daar verander hulle harde, kwaai oë in sagte, hoopvolle oë. En my verwilde hart raak weer rustig en ek glimlag vir hulle…so ‘n dom glimlag, want woorde het ek nie.

Toe ek daar uitstap, besef ek opnuut weer dat ek soveel het om voor dankbaar te wees. Dat ek elkeen van die 3153600 sekondes van die jaar dankbaar moet wees. Want ons dien ‘n God van wonderwerke. En toe ek in die kar klim bid ek vir elkeen van die dokters en vir elke babatjie en hulle mammas, want ek weet dat dit gebed en genade was wat ons deur dié jaar gekry het.

 

Advertisements

2 thoughts on “64. Ver-JAAR!

  1. Wow dis pragtig Charme. En so spesiaal vir my want vandag is my liefste premmie 1 jaar oud. En dis nes jy daar se. Mens het so baie om te vier. En voor dankbaar te wees want dinge kon baie anders gewees het. Ons het lekker groot partytjie gehou want dis ‘n wonderlike spesiale dag. Jys ‘n wonderlike mamma met so ‘n goeie hart.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s