58. SIEK en sat vir siektes!

224d2ed6d4c884f9548ae1dc2be96277d1a552c72d6f668358c1373a580653c4

Ek het altyd geweet Lisa gaan siek word, maar ek het gebid en gehoop dat die siekgoggas vir so lank as moontlik weg sal bly. Aangesien haar immuunstelsel soveel laer is as gewone babatjies, was die hele SIEK-ding seker onvermybaar. Een van die groot redes hoekom ek so lank (al was dit glad nie maklik en lekker nie) geborsvoed het, was juis vir daardie rede…om haar immuunstelsel soveel as wat ek kan, kan aanhits.

Maar, soos dit seker maar moet werk, het Lisa (soos alle normale babatjies) siek geword. Dit is snaaks hoe mens optree as jou kind vir die eerste keer siek is. Mens voel skielik so dom en magteloos. Ek het al baie gehoor van ma’s wat net skielik in die middel van die nag wakker word met ‘n kind met ‘n koors van 40grade of hulle gooi op of hulle hoes heelaand.

Ons eerste siekwees was bietjie anders. Lisa het stelselmatig siek geword. Dit was nie oornag nie en dit was nie skielik nie. Sy het eers ‘n snotneusie gekry wat net so bietjie geloop het. Na ‘n paar dae het sy ‘n hoesie ontwikkel (seker van die snotterigheid). Na nog ‘n paar dae het sy met hoë koors begin. En toe een oggend word sy wakker met ‘n vreeslike veluitslag. En so, stadig maar seker, het hierdie bietjie siekerigheid verander in ‘n ernstige “O-hel-my-kind-is-nou-regtig-siek”-oomblik.

As werkende ma was dit vir my die ERGSTE ding ooit! Om ‘n siek kind wat skree en nie lekker is nie af te laai en te gaan werk was vir my veel erger as daardie eerste dag terug by die werk. Dit is al wanneer ek die HAAT om te werk.

3981239b8e15efa00a59b9d83795f07d

Die probleem met siek babas is daardie moeilike besluit: Wanneer gaan jy dokter toe? Volgens sekere artikels moet mens dadelik ER toe jaag as jou kind ‘n bietjie koors het. Vir sommiges moet jy weer wag tot die koors 2 of 3 dae aanhou. Maar tot vandag toe is daardie besluit nogsteeds vir my die moeilikste. Hou ek haar by die huis en sy gaan in skok of kry stuipaanvalle of sy hou op asemhaal of of of, sal ek myself nooit vergewe nie. Gaan ek elke keer hospitaal toe en kry later die omgerolde oë van die susters en pediaters wat saggies agter jou rug fluister en woorde soos “helikopter-ma” en “oorreageer” wat net-net hoorbaar is.

Ons het vinnig geleer hoe Lisa is wanneer sy siek is. Dit is ongelooflik hoe elke kind anders is. Party babas is dodelik siek wanneer hulle koors net bo 37.5 is. Ander het weer ‘n baie hoër vlak van toleransie. Lisa sal met ‘n koors van 39 grade rondhol in die huis en dans en grappies maak. Maar hier van 39.5 af begin haar koppie hang en haar ogies raak vaal. Dit is dan wat ons begin bekommerd raak. Want dis dan wat ons regtig weet: Lisa is nou siek. Lisa het ook nie “normale” simptome nie, so ons vind eers na bloedtoetse uit wat regtig met haar fout is.

20150622_143912

Ons het ook gou geleer dat die dokters baie meer tegemoedkomend is wanneer dit by prem babatjies kom. Ek was soveel keer by die hospitaal met haar en hulle het my nie een keer laat voel asof ek oorreageer of simpel is nie. Die dokters het my darem ook al teen die tyd op die naam gegroet en na twee maande in die hospitaal geweet dat ek nie sommer oorreageer nie. Die een dokter het eenmaal vir die suster gesê: “You have to understand…this is a mom that underreacts. So when she arrives here…you have to know that it is very very bad.” Dit was vreemd hoe mens sekere goed wat mense sê nooit vergeet nie. Ek onthou hoe ek vir ‘n tydjie gewonder het of ek dalk bietjie meer bekommerd moet wees as Lisa siek is. Miskien  moet ek net “react”…nie “under” of “over” nie… maar net gemiddeld. Maar hoe doen mens dit. Jy volg tog maar net jou hart en dit is moeilik om sulke veranderings te maak.

As kinders was ons nie sommer dokter toe nie. Jy het ook nie sommer net by die huis gebly as jy siek voel nie. Jy moes dit maar net vat en aangaan. En dit is iets wat ek op skool gehaat het, maar vandag heg ek baie waarde aan hierdie opbrengs. Ek was van vroeg af geleer dat mens nie sommer net ‘n ‘sussie’ moet wees nie, maar dat jy baie tawwer is as wat jy dink. En hiervoor is ek dankbaar. Maar met Lisa, moes ek leer om meer en meer dokters te vertrou en maar my tawwe-boere-trots te sluk en hospitaal toe te gaan.

Sy was teen die tyd wat sy 1 was, 4 keer erg siek. Elke keer iets anders, dubbeloorontsteking, sinusitis, griep, hand-voet-en-mond,  ens. Elke keer moes ons antibiotika kry. Antibiotika is glad nie my beste vriend nie, maar nadat jy alle moontlike krui/boere/homeopatiese raad gevolg het en nogsteeds met ‘n pap kind sit, was antibiotika maar daar. Elke keer het ons maar ‘n ander tipe antibiotika probeer sodat sy nie te veel skade lei nie.

En toe rondom haar eerste verjaarsdag was Lisa weer lelik siek. Siek-siek. Ek het haar ingevat en die dokters was baie bekommerd.  Sy het ‘n uitslag wat soos breinvliesontsteking lyk en hulle wou dadelik ‘n lumber puncture doen. My kop het in alle rigtings gehol en ek het sommer kliphard gebid. Die dokter het begin lag en toe maar net vir my ‘n drukkie gegee. 4 dokters se opinie later en ons is ingeboek vir obserwasie. Bloede is getrek en weggestuur en Lisa is op ‘n drip gesit.

Ek onthou hoe ek heeltyd gedink het dat dit presies ‘n jaar later was en hier sit ek weer. In dieselfde hospitaal. Ek hoop dat dit nie ernstig is nie, en ek hoop dat die net vir een aand is. Ek sien dieselfde gesigte en eet dieselfde kos en dit verbaas my hoeveel rou emosies ek nog aan die hospitaalgang en die masjiene se gebeep gekoppel het. En net daar huil ek, want skielik besef ek…ek is siek en sat vir siektes.

20150624_161137

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s