53. Dis maar ‘n NARE storie!

11046622_10203456042502038_8323941076764519191_n

‘n Baba wat skree na elke voeding en dan vreeslik opgooi is iets wat met talle mammas gebeur. Babatjies sukkel baie met krampe en winde en daarvoor is daar mos Gripe Water en Telament drops. Vir duisende mammas werk dit perfek en hulle huilende babatjies word sommer vinnig rustiger. Die probleem kom egter wanneer jou babatjie te klein is. Al hierdie medikasie mag eers vir babas van 3.5kg gegee word en toe Lisa 3.5kg was (amper 6 maande later), het ons al so gewoond geraak daaraan dat sy krampe en winde het, dat ons dit maar gelos het. Hulle het in elk geval vir ons gesê dat dit net vir 6 maande aanhou.

Prem babatjies is ook meer geneig tot reflux omdat die kleppie wat alles in die maag hou nog nie heeltemal toegegroei het nie. En Lisa het (soos baie ander babatjies) redelik baie opgebring na elke voeding. Ons het met die dokter daaroor gepraat en ek was mal oor haar antwoord. Sy was seker dat Lisa refluks het, maar wou haar nie medikasie daarvoor gee nie. Sy het gevoel dat haar klein liggaampie nie die medikasie gaan verwelkom nie en dat die medikasie vir haar meer nadelig in die langtermyn gaan wees. Ons het besluit om nie enige medisyne te gee nie (ek haat in elk geval medisyne en gebruik dit net as dit absoluut nodig is). Die algehele gevoel was as ons dit nie meer kan hanteer nie, dat ons weer sal heroorweeg, maar dat ons sal probeer uithou vir solank as wat ons kan.

Dus, het ons redelik vinnig gewoond geraak aan opgooi. “Opgooi” is so mooi woord…soos ‘n bal wat spelend in die lug opgegooi word. Dit is glad nie hoe dit in die werklikheid is nie…daar is geen ‘speling’ of mooi ‘bal’ nie, maar inteendeel is daar ‘n onverwagse streep melk/buttenut/patat wat soos ‘n jet uit ‘n klein mondjie skiet in ‘n rigting wat nie vooraf bepaal kan word nie. Maar dis nogsteeds beter as die ander woordkeuses: “braak” is so harde, kras woord…so amper asof dit die klank is wat ‘n draak moet maak. “Kots” is weer so kommin woord…soos die dronk student in die strate van Stellenbosch na Jool. So opgooi is seker maar die beste woord.

Wel Lisa het opgegooi. Baie opgegooi. Heeltyd opgegooi. Orals opgegooi.

Ek het so baie dae na ander mammas gekyk met ‘n absolute verwondering in my oë. Veral as hulle so klein lappie-dingetjie van BabySense uithaal en oor hulle skouer plaas. Dit is klein en pas perfek tussen jou nek en jou skouer en dit is in mooi sagte kleure. Dan verstaan ek nie hoe hulle hulle babatjies net so ‘n ligte tikkie op die rug gee en dan spoeg hulle babatjie so perfekte R5-size spoegseltjie perfek in die middel van die lappie. HUH?! Flip.

Dan kyk ek na myself en sien ‘n hele ander prentjie. Ek, met die klere aan waarop daar nog vanoggend se opgooivlekke sigbaar is (alhoewel ek ‘n serp aanhet om dit te probeer verbloem), haal ‘n hele ou lapdoek uit (en dit was baie kere te min vir al die opgooi). Dit word dan oor my skouer, arm, rug, meubels rondom my en ‘n groot gedeelte van my hare gedrapeer. Dan tel ek my skreeuende klein babatjie (wat alreeds almal se aandag gehad het bloot net omdat sy so klein was of al die kyke klaar gekry het omdat ek haar in die publiek borsvoed) op en na so 15-20 minute se aanhoudende geskree kom daar soms (sonder enige tekens…en ook nie altyd nie…want dit sou dit te voorspelbaar gemaak het) ‘n lang streep opgooi uit. Die doek het meestal alles gekeer, maar ek moes baie kere  daarna ook die vloer skoonmaak en een keer ook die geskokte tannie langs my by Mugg n Bean se Green Cross sandale.

Ek wou soveel keer aan mense verduidelik. Ja, ek weet ek het kots (klink nou skielik beter as opgooi) op my rug, in my hare en oral op my bank. En dis ok…want ek het ‘n baba wat lewe. Die feit dat sy enigsins hier kan sit en KAN opgooi het dit snaaks genoeg makliker gemaak. Sy kon net sowel soos baie ander premies nooit natuurlik drink nie. Of sy kon nog in die hospital op suurstof wees. Of Of Of… So ons het half ‘n tipe dankbaarheid teenoor die opgooi begin kry. Snaaks wat ‘n bietjie perspektief in die lewe bring.

En so het ons maar uitgehou. Baie klere gewas en min in die openbaar uitgegaan, maar uitgehou. As iemand haar wou vashou het ons maar net ‘n waarskuwing gegee. Sommige mense het gedink ons oordryf en het haar steeds gevat sonder ‘n gedrapeerde doek. Een van my vriendinne en haar dogtertjie het kom kuier en Lisa het so baie op hulle opgegooi dat hulle moes skoon klere gaan aantrek het. Maar ons het uitgehou en ons vriende en familie het uitgehou.

En op 6 en ‘n half maande het dit skielik net opgehou. Klaar met opgooi. Klaar met die “mooi” spoegdoeke (selfs nie eens die mooi gehekelde rantjie of die prentjie op geborduur maak dit “mooi” nie). En raai wat…op 7 maande het ek ook ‘n Babysense lappie-dingetjie gaan koop en het met trots my babatjie op my skouer ‘n tikkie gegee en daar het ook ‘n klein R5-size blertsie in die middel van die lappie geval. EUREKA!

Advertisements

One thought on “53. Dis maar ‘n NARE storie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s