44. La Leche League kuiertjie

images

Aangesien ek dit my mamma-missie gemaak het om Lisa te kan borsvoed, het ek vreeslik baie op die internet opgelees oor alles aangaande borsvoeding. Een groep op Facebook wat my bitter baie gehelp het (en steeds doen) was La Leche League. Nou meeste mammas ken hulle, maar vir die van julle wat in die donker is hieroor…dit is ‘n groep vrouens wat borsvoeding bemark en hulle gee advies en moedig mammas maar net in die algemeen aan om te borsvoed.

Dit was vir my wonderlik om suksesstories te lees en om ander mammas se vrae en advies te lees. Dit het my meer normaal laat voel, want ek was nie al een in die wêreld wat sukkel nie. Hier was baie vrouens wat openlik oor hulle probleme gepraat het en dit was vir my wonderlik om te sien dat borsvoeding vir baie ander vrouens ook nie net “natuurlik” en “maklik” gebeur nie.

Ek was ongelooflik opgewonde toe ek een dag afkom op ‘n uitnodiging na ‘n kuiersessie by een van die La Leche leiers se huis. En ek was nog meer opgewonde toe ek sien dat dit omtrent ‘n kilometer van my huis af plaasvind. Ek het uitgesien om ander mammas in my area te ontmoet. Ek het gesien hoe ons almal met ons babatjies kuier en gesels oor als wat pla. En hoe ons in die verre toekoms op Saterdae in die parkie ontmoet sodat ons kinders kan saam speel. Ek was so bly dat ek blootgestel gaan word aan ander mammas met soortgelyke idees en met babas wat omtrent so oud soos Lisa is. Weereens was ek GLAD nie voorbereid vir wat op my wag nie.

Toe ek by die huis aankom was daar 6 ander vrouens, maar almal was redelik ouer as ek. Ek het rondgekyk om te sien waar almal hulle babas wegsteek en of ek iets gemis het. Maar nee, ek het nie. Niemand, behalwe ek, het ‘n baba gehad nie. Die ander se kinders (wat van 2 tot 7 jaar oud gewissel het) het almal buite in die tuin gespeel. Ek het aangeneem hulle het moontlik…of liewer HOPELIK…hulle babatjies by die huis gelos.

Toe ons begin gesels, het dit duidelik geraak dat ek bietjie die verkeerde idee gehad het waaroor so kuiertjie gaan. Die mammas was almal regte borsvoed-Nazi’s. Hulle was vreeslik aggressief oor mense wat formule melk gee en mense wat hulle snaaks aankyk wanneer hulle hulle 7 jarige seun in die publiek borsvoed. Ek moes self my mond toemaak toe die een seuntjie (omtrent 5) tydens die gesprek instap, sy ma se hemp oopknoop en self haar bors uithaal en rustig staan en drink terwyl sy ma net aan gesels asof daar niks vreemds aan die gebeur is nie. Hulle dra almal net organiese materiaal en is regte hippies. Ek het daar gesit en dink…wat maak ek hier?!

Ek is 100% vir borsvoed, maar ek probeer glad nie ander mammas wat besluit het om nie te borsvoed nie, te oordeel nie. Dit is tog elkeen se eie persoonlike keuse. En ek ken baie mammas wat formule gee omdat dit vir hulle werk. Net omdat ek sterk voel oor borsvoeding beteken tog nie almal moet so voel nie. Ook het ek beplan om Lisa te borsvoed tot op 6 maande (wat toe ‘n jaar geraak het), maar ek was glad nie gewoond daaraan dat mense groot kinders voed nie. Dit was vir my “weird” en regtig vreemd.

imagesCAXZ1869

Alhoewel ek ongemaklik was, het ek die praatjie regtig geniet en so baie geleer oor borsvoeding wat ek nie geweet het nie. Goed soos dat ‘n ma wat geborsvoed het, ‘n kleiner kans het om kanker te ontwikkel. Ek het ook geleer hoe om seker te maak dat ek genoeg eet en drink om die beste melk”koei” te wees. Dit was regtig lekker om bemoedig te word vir die feit dat ek dit kon regkry om Lisa wel te voed. En almal het vreeslik ge-oooh en ge-aaah oor hoe klein en oulik sy is.

In die kar oppad huis toe het ek sit en wonder hoekom ek so vreemd gevoel het. Wie is ek om te sê wat normaal is of nie? Die groep vrouens was net anders as ek, maar dit maak hulle tog nie verkeerd nie. Ek het besef dat ek moet leer om tussen die sleg, al die goed raak te sien. Ek het weggestap sonder vriende en sonder lewenslange kennisse, maar ek het ook weggestap met kennis en ook ‘n idee van wat ek as reg sien.

imagesCAD0YT05

As ek Lisa in die publiek voed, maak ek nogsteeds my borste met ‘n lappie toe. As ek by die huis voed, nie. Ek glo steeds wat ek glo en ek doen steeds wat ek dink reg is. Ek lees steeds daagliks die nuwe stories op die La Leche groep en geniet dit nogsteeds net so baie. Maar hierdie groepie was net nie vir my nie. (Alhoewel ek steeds elke maand uitgenooi word)

Ek het egter gedurende my kraamverlof baie ander mammas ontmoet. Mammas met wie ek wel kon assossieer. Mammas wat soos ek dink, en soos ek doen. Ek het gereeld teruggedink aan my ontmoeting met die Nazi’s. En ek het net weer besef dat daar baie verskillende blomme in die veld is. En elkeen gee sy eie geur en kleur aan die wêreld. En nou…as ek ‘n ma sien wat haar borste uithaal en ‘n kind (baba of nie) in die winkels voed OF as ek ‘n ma sien wat vir haar baba ‘n bottel aanmaak…sien ek ‘n blom. ‘n Mooi blom met ‘n heerlike, vars geur.

imagesCAG3PF8P

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s