41. Die “perfekte” kraamverlof

wondermom

Ek wonder soms waar al die ideale wat mens vir mensself stel vandaan kom. Waar kom ons aan als wat “normaal” vir ons is. Is dit die TV se skuld met hulle valse idee van swangerskap en huwelik en ma-wees, of is dit maar ook deur ons eie doen en late. Is ons nie maar altyd besig om ons met mekaar te vergelyk nie? Is dit omdat ons op Facebook en Instagram al die “perfekte” mammas met hulle “perfekte” lywe en hulle “perfekte” babas sien? Mammas wat besig is om joga te doen met ‘n baba op die rug, ‘n stofsuier in die hand en ‘n glimlag op haar gesig. Mammas wat nooit donker kringe onder hulle oë het nie en besig is om ‘n baba te borsvoed terwyl hulle vir ‘n pedicure te gaan.

images

Ek het gedurende my swangerskap die idee van kraamverlof verwelkom. Ek het baie dae gedink hoe ek die 4 maande gaan benut. Ek sou elke dag met my babatjie in ‘n pram om die blok of langs die see stap (om my “lyf” weer terug te kry). Ek sou saam met my ander nuwe-mamma-maaitjies gaan koffie drink en oo en aa oor ons oulike babatjies. Ek het gedink om die eerste 2 maande so min as moontlik te doen en heeldag in my pragtige volmaakte babatjie se oë te kyk. Ek sou lekker in die winkels rondloop en by Kauai ‘n smoothie koop (om my “lyf” nog meer terug te kry). Ek sou elke dag vir my man lekker kos kook. En as my baba slaap sal ek elke dag probeer om iets in die huis uit te sorteer (soos die kaste of so iets).

Min het ek geweet dat ek die eerste twee maande in die hospitaal gaan wees. En dat ek nie die woord “kraam”-verlof wou gebruik nie, want ek het nie ge”kraam” nie. Maar my baba is onder abnormale omstandighede uit my maag gesny. Ek het ook gevoel hoe onregverdig dit is dat prem mammas nie die volle 4 maande kraamverlof kry om SAAM met hulle babatjie by die huis te wees nie. Dat hulle baie van daardie tyd in die hospitaal moet deurbring. En dat hulle babatjies na 4 maande nog fisies veels te klein is om by enige dagsorg in te teken.

Maar min het ek ook geweet dat die tweede twee maande ook GLAD nie soos plan sou verloop nie. Eerstens het my UIF nie uitbetaal nie…so ek was tydens my hele kraamverlof arm. Ons het ekstra geld weggesit vir die eerste tyd, maar het nie ingereken dat ons elke dag hospitaal toe gaan moet ry nie. Die petrol het stadig maar seker ons spaargeldjies weggevreet en die wegneemetes wat daarmee gepaard gegaan het, het ook nie gehelp nie. Ons het ook nie ingereken dat dit so lank sou vat vir UIF om uit te betaal nie. My man het uitgehelp met geld sodat my debietorders ten minste afgaan, maar daar gaan die idee van koffie drink en smoothies koop en winkels toe gaan. Ek het soveel probleme met UIF gehad dat my geld eers nadat ek weer begin werk het, uitbetaal is. Ons het ons leefwyse ernstig aangepas en glad nie bederf kos geëet nie. Ons het NET by Shoprite inkopies gaan doen en moes ernstig beplan. Die ‘lekker’ kos wat ek elke aand wou maak het verander in tuna mate en groentesop.

Tweedens het dit meeste van die tyd gereën en dit was vrek koud. En daar vlieg die idee van oefening ook by die venster uit. Ek het 2 keer in 4 maande om die blok gestap. En ek was so uitasem dat dit glad nie vir my lekker was nie. Ek het ‘n klomp ou Parenting-tydskrifte by ‘n vriendin gekry en het heerlik gelees en gekyk hoe die “perfekte” ma met haar geblaasde hare in die prentjie oefeninge doen. Ek onthou hoe ek gewonder het waar haar baba is terwyl sy besig is om met haar pers gewigte op die blou joga-matjie te lê en haar maagspieroefeninge te doen. En hoe ek gewonder het of ek kan onthou hoe my maagspiere nou weer lyk? Dit alles terwyl ek in my pajamas op die bank sit met TLC op die TV in die agtergrond en Lisa wat op my bors lê. Ek moes maar vrede maak met my “lyf” en het besluit om die idee van ‘n bikini of selfs ‘n volswembroek vir eers te laat vaar.

Derdens was my lekker uitstappies baie anders as wat ek gedink het. Ek het een keer ‘n week saam met my nuwe vriendinne gebid en moes elke Woensdag vir Lisa by die kliniek laat weeg. Ons het besluit om nie ‘paranoid’ te raak oor Lisa se gewig nie. Baie prem mammas weeg hulle babas elke dag op ‘n kombuisskaal, maar ons het besluit om maar te hou by wat die dokters aanbeveel het…om een keer ‘n week by die kliniek te laat weeg. Daar is net 2 susters wat daar werk en na die tweede keer het ek die roetine goed geken. Elke Woensdag na die weegsessie het ek in die kar gesit en vir my man, die oumas en oupas en een of twee ander wat belangstel die gewig van die week deurgestuur. Elke week was anders, maar na so paar weke kon ons bevestig dat sy min of meer so 100g ‘n week optel. Ek het een week daar gekom en sy het net 40g opgetel. Die suster was baie bekommerd (sy het my allerhande rowwe goed vertel) en het aanbeveel dat ek dadelik die pediater bel.  Ek het so gestres en vreeslike gedagtes het deur my kop gemaal. Ek het in die kar sit en senuweeagtig die foon opgetel en die nommer geskakel. Die pediater het my so gemaklik laat voel en gesê dat dit heeltemal normaal is vir ‘n prem. En dat ENIGE gewig wat hulle optel goed is, solank hulle net nie verloor nie.

Laastens wou ek nie veel doen nie. Ek wou net sit of lê en net wees. Ek wou nie uitgaan nie. Ek wou nie mense sien nie (veral nie mense met vet normale babas wat al kan sit op 3 maande nie). Ek wou seker maak Lisa is warm en ek wou seker maak ek kan haar genoeg melkies gee. Ek het ure lank in haar oorgroot, uit-proporsie-uit, perfekte ogies gestaar. En honderde ge-‘blur’-de foto’s geneem van elke moontlike gesigsuitdrukking. Ek het nie een kas reggepak of een kamer uitsorteer nie. Ek was net ‘n ma. ‘n Ma wat GLAD nie die ma, wat ek in my kop beplan het om te wees, was nie. ‘n Ma wat net vir ‘n oomblik vergeet het wat die wêreld van haar wil hê. ‘n Ma wat nie perfek is nie. ‘n Ma wat vir dae nie gestort het nie. ‘n Ma wat met ‘n hart vol liefde en dankbaarheid op kraamverlof is. Net eenvoudig ‘n MA.

10600409_10154721231690179_2990896721979383813_n

Advertisements

2 thoughts on “41. Die “perfekte” kraamverlof

  1. Liefste Charmé
    Weet jy hoe geniet ek jou blog ….. ek is saam met jou opgewonde …. sommer ‘n hele paar keer al saam gehuil ….. alles wat ‘n prem baba is en verg ….. en wat ‘n mamma ervaar en meemaak ….. sjoe my mond hang oop!!!!!!! Maar weet jy Charmé ….. jy is ‘n ongelooflike mamma ….. ek ken mos vir jou van Silen se skooldae af en …….dieselfde toewyding, liefde en omgee wat jy vir al jou kinders in die skool gehad het …. sien ek net weer ….. maar hierdie keer net nog veel veel veel meer !!!!!!!
    Drome van ‘n ideale mamma ens ens ….. ons almal vldoen daaraan … jy die meeste van almal !!!!
    Dankie vir jou skrywes ….. jy inspireer baie om jou !!!!!!!!!!!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s