38. Die eerste week van ordentlike “ma” wees

cold 2

Die eerste week met Lisa by die huis was…uhm…wel…interessant. Die hospitaal het ons baie mooi laat verstaan dat sy NOG nie ontslaan is nie. Dat hierdie net ‘n toets is (nog een) om te kyk of ons sonder die hulp van die hospitaal na haar kan kyk. Ons moes die Donderdag weer terug wees sodat hulle haar kan weeg. Dus was ons eerste parooltydjie maar eintlik net 3 naggies. As sy mooi gewig opgetel het in ons sorg, kan ons weer op “parool” uitkom totdat sy eindelik by 1.8kg kom.

In ‘n huis waar ons gewoonlik net in die badkamer seep gehad het vir handewas, was daar nou skielik seep in elke vertrek. En nie eers lekker-ruik seep nie, maar die een wat nes Dettol ruik…die een wat sê “99% germ free”. Ek was so bang sy raak siek en ons en enige iemand wat eers in Lisa se rigting loer, moes hulle hande was. Gelukkig het daardie intense handewasproses net vir so paar maande geduur en ons is nou weer heeltemal ‘normaal’ wat die kiemfobie betref (sjoe…want ek is nogal eintlik in my hart ‘n ‘vuil’-kind) Ek wou ook nie hê mense moet vir ons kom kuier nie, want ek wou wag totdat sy liewer ordentlik ontslaan is voordat hulle kom. Netnou raak sy siek en dan wat? Maar natuurlik het ‘n paar “moet-sien” gesiggies kom inloer en gelukkig was almal gesond.

was

Ons het ‘n koue huis (en dis wonderlik in die somer), maar in die winter is ons huis ekstra koud. Ek en my man hou albei nogal daarvan so en doen nie die hele “heater” ding nie. Ons het elkeen maar net ‘n ekstra kombersie op die bank en siedaar. Maar die ding met die koue is dat ek Lisa moes warm hou anders verloor sy gewig en dan moet ons terug gaan hospitaal toe.

Ons was skielik meer bewus van die koue en moes allerhande DIY planne beraam om die kamer so warm as moontlik te hou. Ons het ‘n lekker kaggel wat gewoonlik heelaand brand in die winter, maar ek was te bang die rook affekteer Lisa se longetjies en asemhaling. Ons het ‘n stokou verwarmer uit die dak gaan afhaal om die kamer warm te hou. Ek dink dis een van daai onwettige asbes-verwarmers, maar in elk geval (dit het die kamer warm gemaak, ok!?). Ons het ook ons boontjiesakkies warm gemaak en in die bed gepak en ons het die ander kamers se komberse bygemaak en bo-op en onder die duvet gepak. Saans was ek sopnat gesweet van die hitte, maar Lisa was warm en dis al wat saakmaak.

cold

Die suster in die hospitaal het aanbeveel dat ek Lisa permanent in Kangaroo Care hou. Dus sal sy heeltyd van my liggaamshitte ook hou. Ek was so bang dat sy gaan koud kry. Ek wou so graag bewys dat ek ‘n “goeie” ma is, wat na my babatjie kan omsien sonder die hulp van susters en verpleegster. Ek was vasberade dat sy nie gewig sal verloor nie. Dus het ek Lisa onder my hemp gehou en dan ‘n kombersie bo-oor haar en dan my dik wol kamerjas bo-oor als.  En net so het ek soos ‘n opgestopte Kangaroo teddiebeertjie met my baba kangarootjie in die huis rondbeweeg.

Ek weet nie hoekom ek enigsins gedink het die wasgoed gaan als netjies gewas wees as ek by die huis kom nie. Maar mens kan seker maar droom. My man (shame…hy was ook deur hel) het nie een keer vandat ek in die hospitaal was, by die wasgoed uitgekom nie. Behalwe vir die wasgoed wat sy ma gewas het terwyl sy daar gekuier en uitgehelp het, was daar weke en weke se werksuniforms, stink sokkies en onderbroeke. Ek het net vir ‘n oomblik na die 2 groot, oorlopende wasgoedmandjies gestaar toe ek by die kamer instap en het besluit om nie op die eerste dag al kwaad te raak oor simpel goedjies nie.

Ek onthou wel hoe ek gewonder het hoe ek dit gaan was en ophang as ek Lisa heeltyd op my bors moet hou. Maar op een of ander manier met my rug so half agtertoe sodat Lisa nie uitval nie…en met my een arm op haar en die ander arm in die wasmasjien (g’n wonder my rug is nou nog seer nie) het ek dit reggekry om die wasgoed weer op datum …of liewer soort van op datum te bring.

Saans was ‘n ander storie. Ons het haar gebad (met meer selfvertroue en handigheid as in die hospitaal) en ek het haar so vinnig as moontlik weer op my bors gesit sodat sy nie koud word nie. Lisa moes bo-op my slaap. Ek het kussings gepak om my regop, in ‘n sittende posisie, te hou en sy het op my bors geslaap terwyl ek so soortvan elke paar minute vir ‘n paar minute weggesluimer het (weereens briljant vir ‘n seer rug). Ek was so bang ek rol oor haar, maar ek was banger dat my man oor haar sal rol (ek slaap mos al vir ‘n tydjie so, maar vir hom is dit ‘n nuwe ding om ‘n baba in die bed te hê).

10576936_10154606179430179_257538202158920537_n

Lisa het vreeslik gehuil saans. Dit was asof sy net nie wou slaap nie. Sy was so vaak, maar sy weier en baklei teen die slaap. Toe ons die Donderdag terug gaan hospitaal toe en ek hulle vertel van haar vreeslike gehuilery, het die suster net vir my geglimlag en haar kop geskud. Sy sê toe vir my dat sommige NICU babas ‘n skerperige lig in die kamer moet hê wanneer die baba slaap. Dat hulle so gewoond geraak het aan die ligte en geluide van die hospitaal dat hulle glad nie in ‘n stil, donker kamer kan slaap nie. Ek onthou hoe ek gewonder het hoekom sy my nie vroeër vertel het nie, maar in elk geval. En van daardie aand af slaap Lisa vir die eerste paar maande van haar lewe met die lig aan soos ‘n …wel…soos ‘n baba.

Ek onthou hoe ek gebid het oppad hospitaal toe. Ek het my sakkie gepak gehad vir ingeval ons moes bly, maar dit was toe nie nodig nie. Ons het die eerste parooltyd met lof geslaag en Lisa het gewig opgetel! Ons is weer op parool huis toe en die keer was dit vir ‘n week. Ons moes die volgende Donderdag weer terug wees vir weeg en hopelik is sy dan 1.8kg sodat ons permanent kan huis toe gaan.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s