37. Lisa ontmoet haar ouer boetie en 2 sussies

   10628057_10154721237390179_8358977863743227484_n

Ek is mal oor diere. Ek wou as kind nooit my eie kinders hê nie, maar baie honde en katte. My ideale het intussen bietjie verander, maar ons het wel 2 honde en ‘n kat. Van die begin van my swangerskap af het ek baie opgelees oor hoe om jou babatjie aan die troeteldiere in jou huis voor te stel. Hoe jy eers ‘n kombersie met die baba se reuk huis toe moet bring en dan stadig maar seker die baba aan die diere voorstel. Aangesien ons nooit regtig geweet het wanneer Lisa huis toe kom nie, was die hele stadig-maar-seker proses dus nie so maklik nie.

Een ding wat julle moet verstaan is dat my honde nou nie juis as skoothondjies gesien kan word nie (alhoewel hulle soms so dink). Mac en Macy is albei van dieselfde ma en pa. Hulle is kruisings van ‘n St Bernard en ‘n Bull Mastiff. Dus is hulle redelik groot, maar baie liefdevol. Ons is bitter lief vir hulle, maar hulle is nog redelik jonk en hou nog vreeslik van speel. Hulle is so groot dat Mac se poot so groot was soos Lisa se hele lyfie. Ek wou so graag dat hulle haar ontmoet, maar ek was so bang dat hulle per ongeluk te rof met haar speel. Een ligte happie en Lisa is daarmee heen.

Dan het ons ook ‘n kat genaamd Katrina of eintlik net Kat vir kort. Sy is ‘n ‘rescue’ wat ons as ‘n volwasse kat by TEARS gekry het. Sy is maar redelik skrikkerig vir nuwe goed en het vandat ek swanger geraak het baie vreemd geraak. Sy het op my maag gelê en slaap en het alles wat ons vir Lisa gekoop het, as haar eie aangeneem. Sy het elke aand in Lisa se kot geslaap en deur die dag op Lisa se “changing mat” geslaap. Terwyl ek by die huis was, het ek haar afgejaag, maar vandat ek in die hospitaal was, was ek seker pappa het nie daaraan gedink nie. So ek was ook nie heeltemal seker hoe Kat oor die nuweling gaan voel nie.

‘n Ander probleem was dat Lisa se immuunstelseltjie bitter onderontwikkel was. Hulle het ons so baie gewaarsku teen kieme en vuilgoed. Ons moes so baie ons hande was en ek was skrikkerig vir die diere. Party mense het selfs aangeraai dat ons van ons diere ontlae moet raak. Hulle het gesê Lisa gaan te veel siek raak en dat preemies en troeteldiere nie saamwerk nie. Die hare is glo bitter sleg vir haar longe en ons sou volgens hulle altyd sukkel met Lisa en asma. Dit was vir ons nie eers ‘n opsie nie. Hulle is mos ook ons kinders.

Ons het eers na so dag of wat die diere aan Lisa voorgestel. En Katrina het als maar net van ‘n afstand af dopgehou. Sy was baie nuuskierig en wou als sien wat ons met Lisa doen. Sy het vir ‘n paar weke nie op ons bed gelê nie. Sy was vreeslik skrikkerig en het elke keer as Lisa net wriemel of ‘n geluidjie maak, weggehol

14176_10154591829925179_3422164300387572287_nDie honde wou net lek. Hulle wou regtig IN haar gesig wees om te ruik. As ek hulle nie toegelaat het nie, het hulle glad nie rustig geraak nie. Hulle wou elke oggend in haar gesig ruik en het dan baie beskermend by my voete gaan lê. Die twee honde was ook heeltemal anders met haar. Mac (die seuntjie) was beskermend en het geblaf as sy huil. Macy (die dogtertjie) was liefdevol en wou teen haar lê en heeltyd naby haar wees.  Ek was bietjie versigtig, maar Lisa het glad nie omgegee nie. Sy het dit inteendeel geniet en selfs haar klein handjie uitgesteek om hulle te voel. 1601244_10154689414155179_4235302444682778762_nSoos sy ouer geraak het, het hierdie verhouding net versterk. Hulle het met haar gespeel toe sy begin kruip en haar gelek as sy haarself teen die tralies optrek. Hulle is vreeslik lief vir haar en sy vir hulle. As ons die agterdeur oopmaak vir hulle om in te kom, lag sy kliphard uit haar maag uit. Katrina laat toe dat Lisa haar hare trek en sy trek speel-speel met haar stert deur haar gesig sodat Lisa kan lag. Lisa hardloop vandag al agter Kat aan en Kat laat haar verbasend toe. En as dinge te rof raak, spring sy net op ‘n hoogte wat Lisa nie kan bykom nie. 10940422_10155335663195179_4458823571460615052_nWat die kieme aanbetref, het hierdie mamma maar net ‘n bietjie LET GO! Ons het maar net besluit dat dit haar immuunstelsel opbou en dat ons maar net daarmee moet saamleef. Ek glo tot vandag toe dat die diere een van die groot redes is hoekom Lisa eintlik so min siek was. En wat is ‘n huis sonder ‘n hond en wat is ‘n vensterbank sonder ‘n kat?

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s