36. Huis toe…regtig…die keer.

untitled 1

Uiteindelik het die dag aangebreek…dis Maandag, 4 Augustus, en ons gaan huis toe! Lisa het 1.58kg geweeg en dit was ‘n volle 7 weke en 4 dae nadat sy gebore is. 7 weke en 4 dae van hel… 7 weke en 4 dae van genade… 7 weke en 4 dae van hoop… 7 weke en 4 dae van toetse… 7 weke en 4 dae van vrees… 7 weke en 4 dae van frustrasie… 7 weke en 4 dae van wonderwerke en 7 weke en 4 dae van gebede…nie net deur ons nie, maar deur letterlik duisende mense wat ons nie eens ken nie.

Ek het die babakamer al maande in my kop beplan en het presies geweet wat ek wil hê en waar als moet gaan. Ek en my ma het self, terwyl ek nog swanger was, ‘n ligskerm gemaak en my pa het ure lank spandeer om ons ou familiekot (wat vir jare wit was) weer vir my af te skuur na die natuurlike mooi bruin hout. My ma en haar vriendinne het saamgespan om die beddegoed vir die kot asook vir die bed tussen hulle te maak of bymekaar te maak. Ons het oorweeg om die kamer te verf terwyl my man op see was, maar het besluit om dit te los totdat hy terug is. So kan hy ook deel voel van die proses. Ongelukkig was daar toe nooit tyd om dit so te doen nie.

Vir my man was dit moeilik. Hy het nie kans gehad om in my idees en planne te deel nie. Hy moes maar net op my instruksies vanuit die hospitaalkamer werk. Hy en sy broer het die kamer mooi uitgeverf en gordyne opgehang. Hy het self ‘n kompaktum gebou terwyl ons in die hospitaal was en hy het self mandjies gaan soek wat inpas by als. Dit was vreeslik snaaks, want hy wou alles perfek hê. Een van die vele oomblikke wat ek onthou was dat ek ons tafelnommers van die troue (wat ons destyds self gemaak het) gehou het en wou dit teen die muur opsit. Hy wou presies weet waar dit moet kom: “Hoe hoog moet dit wees? Wat presies is ooghoogte? want my ooghoogte en jou ooghoogte verskil. Hoeveel sentimeters tussen elke nommer?” Hoe meer ek sê: “Sit dit net op”, hoe meer wou hy presiese berekeninge hê.

10676150_10155264977850179_2192598907722090105_n

Dis so spesiaal vir my dat hy so hard gewerk het, want dit was sy manier om my “normaal” te laat voel. Hy weet hoe lief ek vir dekor is en hoe mal ek daaroor is as ons self goed kan maak. Vir my was dit egter die keer glad nie nodig om alles perfek te hê nie, want ek wou net by die huis wees. En ek het geweet dat Lisa nie sommer gou in haar eie kamer gelos kan mag word nie, maar vir hom was dit ‘n prioriteit. Asof hy wou opmaak vir die feit dat hy nie hier was nie. En asof dit sy manier was om my te ondersteun terwyl ek in die hospitaal was.

My skoonma en haar suster het vir my Lisa se kaste uitgepak en al die kleertjies en kombersies wat sy gekry het gewas en volgens groottes uitgesorteer. Dit was vir my so spesiaal toe ons by die huis kom en die kaste is netjies uitgepak. En my man se niggie het ‘n mooi fotoraam met een van die hospitaalfoto’s vir my op die rakkie neergesit. Dit het my sommer tranerig gemaak toe ek by die kamer instap. Ek het hulle ook gevra om vir my die klere wat nou vir Lisa sal pas, hospitaal toe te bring. Hulle het ook ‘n carrycot vir ons gewas en ‘n nuwe matrassie gekoop en laat oortrek…engelmense…ek sê mos.

Dis snaaks. Ek onthou hoe ek die hele naweek beplan het wat Lisa gaan aantrek die dag wat ons uit die hospitaal ontslaan raak…asof dit ENIGSINS saak maak wat sy gaan aanhê. Sy het tot en met daardie dag glad nie klere gedra nie, want sy was of in die incubator of in Kangaroo Care. Ek het gewonder of haar klere gaan pas. My keuse was redelik beperk tot die heel kleinste klere wat ons het. Dit moes ook warm wees, want dit was vrek koud. Ek het besluit op ‘n langmou prem vessie en ‘n pepstores broekie…en bo-oor ‘n beertjie pakkie van Ackerman’s se tiny baby reeks. Ek het dit vooraf bekyk en gedink dit sal verseker pas. Dit was by verre die kleinste klere in haar kas, maar toe dit kom dat ons Lisa moet aantrek…was als nog veels te groot. Sy het verdrink in haar klere en ek moes die broekie optrek tot onder haar arms en die moue van als moes 3 keer omgerol word.

Ons het vir almal totsiens gesê. Gemengde gevoelens het vir my ‘n nuwe betekenis aangeneem. Ek was so opgewonde en bly om by die kamer uit te stap, maar ter selfde tyd het ek so lief geraak vir die personeel en het gevoel asof ek goeie vriende moet groet. Ons moes die Donderdag terugkom vir weeg (onthou ons is nog net op parool huis toe) so dit was half asof ons groet, maar nie vir altyd nie…net vir nou.

Ons het Lisa in haar karstoeltjie gelaai en ons hoef glad nie die bande van die karstoeltjie te verstel het nie. Sy was veels te klein en het soos ‘n verlore klein beertjie gelyk. Sy het dit ook glad nie verstaan nie en het verward na my gekyk. Voor ons by die deur uit is, het ons haar toegepak met komberse. Dit was vrek koud en wou verseker nie hê sy moet sommer op ons eerste “parool”-uitstappie koud kry en dus gewig verloor nie.

10570286_10154570706465179_6311245802419814995_n

In die kar, het ek agter by haar gesit. Ek was nie seker wat sy in die kar sou doen nie. Ek het gehoor mens moet versigtig wees in die kar, want premies kan maklik ophou asem haal in die stoeltjie. Ek het haar soos ‘n valk dopgehou en elke kort-kort gevoel of sy nog asem haal. Sy het die hele pad geslaap en het glad nie gedeel in my opgewondenheid nie. Ek en my man het oor niks anders as haar toestand gepraat nie. “Wat doen sy? Haal sy nog asem? Is sy ok?” ens. Toe ons by die huis stop, was dit skielik vreemd. Hier staan ons nou ewe skielik met ‘n baba in die oprit. En nou? Hoe nou? Is ons gereed vir dit? Sal ons dit kan doen? Op ons eie? Net ons 3?

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s