35. Hurry up and wait

untitled1Ek dink een van die mees frustrerende dinge van die NICU is tyd. Dit voel vir mens asof sekondes minute is…en minute ure…en ure dae…en dae weke…en weke maande…en maande jare. Dit voel asof mens vir EWIG moet wag vir die dag om aan te breek dat jy jou baba kan huis toe vat. Dis al waaroor jy heeltyd dink en alhoewel daar ander goed gebeur, bly dit iets waarna jou hart smag…soos in aanhoudend smag.

Alles wat in die hospitaal gebeur is ok…want jy weet dat eendag (hopelik nie meer lank nie) dan kan jy jou babatjie in jou eie huis gaan grootmaak. Dit maak die toetse, die stres, die min slaap, die irritasies met die verpleegpersoneel, die deurmekaar mediese terme en die ongelooflike, konstante vrees die moeite werd. En dit is ook iets waaroor almal heeltyd praat. Die dokters sê gereeld: “Maar wanneer jy haar huis toe vat” en die susters sê elke nou en dan: “Dis nie meer lank nie.” Maar hoe lank is “nie meer lank nie”? En wanneer is daardie “wanneer”?

Die probleem is egter dat daardie dag nêrens opgeskryf staan nie. Dat jy jouself nie kan voorberei vir daardie spesifieke dag nie. Jy berei jou voor vir D-dag, maar die datum is onbekend. Jy hoop elke dag dat dit more gaan wees, en elke Vrydag hoop jy dat dit die volgende Maandag gaan wees. En so hardloop jou emosies heeltyd op HOOP.

Na ons dag van toetse was ons seker dat ons daardie Vrydag huis toe gaan gaan. Alles was in plek. Ek het myself emosioneel voorberei om totsiens te sê en seker gemaak alles by die huis was in plek (of liewer ek het gedink ek het seker gemaak als was in plek). My sakke was gepak en ek het net my klere vir die volgende dag uitgehou. Maar, soos meeste goed in die lewe…gebeur dinge nie volgens plan nie…want ons planne is nie altyd God se planne nie.

Die Vrydagoggend met weegtyd het Lisa net 10g opgetel. Dit was nie eens amper genoeg nie. My hart het op die vloer geval en nie soos ‘n rubberballetjie weer teruggebons nie, maar sommer net met ‘n groot DOEF op die grond bly lê. Dit was vir my vreeslik erg. Hoekom nou? Hoekom na alles wat ons deur is? Hoekom nog ‘n naweek? Kan dit nie nou maar entkry nie?

Ek het die arme suster wat die oggend aan diens gekom het se arme kop afgebyt toe sy sê: “Agh…well done…I see Lisa picked up another 10 grams!” Ek het dit sommer verloor en geskree dat 10 gram nie ‘n “Well Done!” verdien nie. Dat ek net wil huistoe gaan. Dat ek klaar is. Dat ek gatvol is. Dat ek op is. Nie net bietjie op nie…maar op soos in oppela op. Sy het verward na my gekyk, want ek het en sy het so ‘n goeie verhouding gehad. Sy het stilgebly en uitgestap en by die deur omgedraai en terug gestap en vir my ‘n drukkie gegee (nog ‘n engelmens). Ek het sommer weer gehuil. Ag flip…die huilery was teen die tyd al sommer so ‘n natuurlike ding vir my dat ek nie eens meer skaam was daaroor nie.

En toe het ek maar weer my sak uitgepak en weer my kamerjas aangetrek en vir Lisa opgetel en met trane in my oë het ek die Common Wealth Games op die TV gekyk. En my aandag was vir ‘n slag by die pragtige synchronized swemmers van Rusland. En ek het skielik besef dat ons ‘n span is wat besig is om iets moois te maak om met die wêreld te deel. Dat daardie swemmers nie maar net so perfek is nie…dat hulle baie lank moes oefen en baie gehuil het en baie moeg was en dat hulle bene baie moes kramp, maar dat hulle nou perfek is. Hulle tydsberekening is op die sekonde perfek bereken. En ek het maar weer my asem opgehou en weer onder die water ingeduik vir nog ‘n oefensessie. imagesCAQNYEIJ

Advertisements

One thought on “35. Hurry up and wait

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s