22. Different strokes for different folks

1610748_551016511677116_8442152976498788007_nAlhoewel ek nou in hierdie “luukse” kamer was, was die nuwe hospitaal nogal ‘n groot aanpassing. Ek was so gewoond om alles net op my eie te doen. By Grootte Schuur was daar soveel babas dat die verpleegsters al te bly was as daar ‘n mamma was wat kon help. Ek het haar self gevoer. Ek het haar self gewas. Ek het self haar doek omgeruil. Ek het self haar melk afgemeet. Ek het haar self in en uit die incubator getel. Ek het self als gedoen. En dit was nogal lekker, want dit het my meer verantwoordelikheid as mamma gegee. Ek het gevoel asof ek iets beteken en asof ek NODIG is.

By 2mil was Lisa, die naweek wat ons daar gekom het, die enigste babatjie in die kindersaal. Die ENIGSTE een! Daar was 4 verpleegsters aan diens. Dus het ons ‘n 4 teen 1 ratio gehad. By Grootte Schuur was die ratio 1 teen 14. By 2 mil is dit ook iets vreemds om so klein babatjie te hê. Die laaste prem babatjie (en die een was 1.8kg) wat hulle gehad het, was 2 jaar gelede. By Grootte Schuur het hulle elke 2 minute ‘n nuwe prem babatjie gehad. Dus was dit natuurlik dat dinge so ‘n bietjie anders gewerk het.

My eerste aanpassing was die kangaroo care. Die verpleegsters het ‘n vreeslike hoe-ha gemaak oor die proses. Hulle het my laat sit op die stoel in my kamer en dan het hulle haar saggies uitgetel en haar op my bors neergesit. Dan het hulle die incubator toegemaak en seker gemaak (met baie moeite) dat elke draadjie wat aan haar gekoppel is perfek vas is en dat die kabel nie een kinkel in het nie. Dan het hulle my met ‘n kombersie toegemaak en vir haar ‘n mussie opgesit. Dit was veel anders as my eenhand-vat-die-baba-druk-haar-onder-my-hemp-in-maak-incubator-toe-en-soek-met-los-hand-vir-kombers metode. Hier moes ek net sit. Sit en kyk hoe hulle alles vir my doen. Om haar weer terug te sit…was net so proses.

Die tweede aanpassing was die voedings. Hier het hulle baie meer klem gesit op die proses van tubefeeding. Hulle was vreeslik bang dat die pypie dalk nie in haar maag is nie en moes elke keer voor ‘n voeding eers seker maak dat die pypie wel nog in haar maag is. Om dit te doen moet jy met ‘n spuitnaald van die maagsuur uit die maag trek. Dit word dan op lakmoespapier getoets om seker te maak dat dit wel suur is. (Weereens het ek terug gedink aan Mnr. Mostert se skeinat eksperimente…en hoe ek toe gedink het dat ek nooit in my lewe lakmoespapier gaan gebruik nie). Indien die papiertjie rooi raak, kan jy met sekerheid sê dat die pypie in die maag is. Indien nie, is die pypie heel moontlik nie in die maag nie en het dit dalk geskuif na haar longe. Dit is nogal belangrik, want as mens ‘n klomp melk in haar longetjies inspuit sal dit nogals problematies wees.

Derdens was die doeke anders. By Grootte Schuur het hulle sulke klein groen doekies gebruik. Hier was dit Little Miracle doekies se size 0. Dit was vir my so mooi naam…want dis presies wat hierdie klein babatjies is…klein wonderwerkies. Dit het tot onder Lisa se arms gekom. Hier mag ek ook nie haar doek self omruil nie. Elke 2 ure wanneer dit voedings tyd is, dan kom die verpleegster in en ruil haar doek. Ek het so useless gevoel. Ek het net gesit en elke 2 ure melk gepomp. En dan elke nou en dan het ek gekangaroo care. En dis maar al. Hulle wou alles self doen. En dit het my frustreer.

Hulle het elke 2 ure in die kamer ingekom en hulle rondtes gedoen. Hier het hulle haar koors gemeet, haar SATS gelees en haar doek geruil. Party het verkeerde aflesings neergeskryf en dan terug rapporteer dat sy ophou asem haal het, wanneer die monitor eintlik net vir ‘n oomblik foutief/offline was. Dan wil ek van my kop af raak, want die dokters vra nie vir my nie…en wil dan vir Lisa op suurstof sien. Hulle lees tog maar net die terugvoering wat die verpleegsters hulle gee. Ek was mos heeltyd daar en sou verseker sien of hoor as Lisa ophou asem  haal het.

Ek het geirriteerd geraak met die verpleegsters, want hulle het gemaak asof hulle als weet en ek niks. Ek het die een gewaarsku dat die plakkertjie van die doek net nie aan haar velletjie moet raak nie, want dan skeur dit van haar vel af. Sy het na my gekyk asof ek nie ‘n idee het waarvan ek praat nie. En sowaar…toe die plakkertjie vasplak aan haar maag en sy dit afruk…trek sy ‘n stukkie vel saam…en Lisa skree blou moord. Ek het gevoel asof ek haar wil klap.

Dit was ‘n aanpassing vir my om net terug te staan en soms te sien hoe hulle my babatjie seer maak, as ek van beter weet. Dit was moeilik, want mens wil nie die heeltyd soos ‘n know-it-all klink nie, maar terselfde tyd wil jy jou babatjie beskerm. Ek het nog nooit in my lewe so min gepraat nie. Dis baie moeilik, want jy wil hê die verpleegsters moet van jou hou, want dan hou hulle ook sommer meer van jou baba. Ek het heeltyd op my lippe gebyt en net my mond gehou. Met die tyd, het dit beter geraak. Hulle het gesien dat ek goed op my eie kan doen en ek het weer ‘n bietjie van my waardigheid teruggekry.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s