20. Die groot skuif

10419594_10154990117845179_1259651435154314177_nOns was altesaam vir 3 weke in Grootte Schuur. Alhoewel my persoonlike ervaring in die kraamsaal nie te wonderlik was nie, was die NICU absoluut uitstekend. Hulle was so goed met Lisa en hulle doen dit elke dag vir duisende babatjies en het soveel ondervinding met hierdie ekstra klein en spesiale babas. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir die ongelooflike susters en pediaters wat met Lisa gewerk het. Die bekende gesigte en warm harte het deel van my geword en ek het goeie vriendskappe gemaak.

Ons het selfs begin hou van die simpel gebreide pull-overtjies (wat lyk soos ‘n tea cosy) wat Lisa moes begin dra. Dit is om hulle gewoond te maak aan teksture op hulle baie sagte vel. Ek onthou hoe versigtig ons moes wees elke keer as ons haar nappy ruil. As daardie plakkertjie-dingetjie wat die nappy vasmaak aan haar vel raak, dan kom daar van haar velletjie saam met dit af. Super sensitiewe en dun velletjies. Ek onthou hoe vinnig haar naelstringetjie afgekom het, want die incubator is droog en warm. Ek het gewoond geraak aan my droë skurwe hande wat selfs klein skeurtjies ingekry het van al die was.

Maar ek het ook met elke dag wat ons daar was, meer selfvertroue gekry. Ek het Lisa sommer met so een-hand-twist-beweging uit die incubator getel en haar sonder enige vrees of moeilikheid opgetel en omgedraai. Ek het haar self gevoed (deur die tube) en het gemaklik met die toerusting begin raak. Ek het meer in beheer gevoel en het redelik gemaklik geraak met die prosedures van die NICU. Dit het amper (op ‘n baie weird manier) begin tuis voel. Soos my tweede huis.

Ek het van die begin af geweet ons sal weer een of ander tyd terug moet skuif na 2 Mil (die militêre hospitaal in Wynberg), maar ek het net nie geweet wanneer nie. Daar was sprake dat hulle haar sou skuif sodra sy 1kg is, want dan is 2 Mil bereid om die sorg oor te neem. Sy was die Donderdag 1kg en ons het saam met die personeel koek geëet. Niemand het my enigsins voorberei vir ‘n moontlike skuif nie.

Die Vrydag daarna was koud en nat. ‘n Regte wintersdag. Die wind het stormsterk gewaai en die pad was nat. Ek het soos normaalweg die dag by die NICU gaan deurbring. Tydens die middag rondtes kom die hoofpediater by die incubators om en die pediaters praat almal in mediese taal met mekaar. Die volgende oomblik kom die een dokter daaraan en sê dat hulle haar nou moet prep vir die ambulans.

Weereens (en ook nie die laaste keer nie) het daardie HUH?! gevoel by my opgekom. Ambulans? Vir wat? Hoe nou? Ry ek saam? Wat van my kar? Is 2 Mil gereed vir hierdie klein dingetjie? Hoekom op ‘n Vrydag? Kan ons nie maar wag tot die Maandag wanneer daar nie skeleton-staff in die hospitaal aan diens is nie? Dis nat en koud…en my hele hart voel ek wil skree: “NEE!”

Ek het net my man gaan bel om te sê dat ons geskuif word en binne die tyd wat ek weg was, het die ambulans alklaar opgedaag. Als was net te vinnig vir my. Ek wou vir almal totsiens sê en ordentlik afskeid neem, maar daar was nie tyd nie. Ek moes vinnig my goedjies bymekaar kry en kyk hoe my klein liefielyfie in ‘n “mobile” incubator gesit word. Die ambulansman het gesê ek moet met my eie kar ry en hulle by die hospitaal kry. En binne ‘n paar sekondes, sonder trane, sonder afskeid, sonder dink…is my Grootte Schuur dae verby.

In die kar het ek gedink aan alles wat ek nog vir die personeel wou sê. Maar dit was te laat. Ek het later besluit om maar vir hulle ‘n brief te skryf en ons gaan verseker kuier as Lisa ‘n jaar oud is. Dis snaaks hoe ek my laaste dag by GSH voorgestel het. Ek het gedink ek gaan meer emosioneel wees, maar daar was net doodeenvoudig nie tyd nie. Ek is in my kar en het so gou as wat ek kan na 2 Mil gery. My man het my daar ontmoet.

Daar gekom was ek skielik bang. ‘n Gevoel wat ek voor Lisa min gekry het…’n gevoel waaraan ek skielik, na Lisa se geboorte, so gewoond geraak het. Wat as hulle nie reg is vir haar nie? Wat as die ambulans in ‘n ongeluk is? En wat dit erger gemaak het, is dat die ambulans meer as ‘n uur gevat het om by die hospitaal te kom. Ek was so bekommerd dat iets met hulle gebeur het. Dis Vrydag middag verkeer en dit is nat en koud.

Ek was amper in trane toe die ambulans stop en hulle die ramp laat sak en vir klein Lisa daar uitrol. Ek onthou hoe verlig ek was en terselfdetyd hoe op my senuwees ek was vir wat nou op ons wag. Ons is tot by die Pediatervloer geneem en die suster aan diens was wonderlik. Sy het aan my verduidelik dat hier, by hierdie hospitaal, die mammas moet inbly saam met die babas. En dat hulle vanaand na haar sal kyk, maar dat ek die volgende dag moet inboek met als wat ek nodig sal hê, want die incubator is saam met die mamma (reg langs die bed) in die kamer.

Ek was nie seker hoe ek daaroor gevoel het nie. Aan die eenkant was dit great, want ek kon ‘n voltydse mamma wees…iets waarna ek teen die tyd al gesmag het. Maar aan die ander kant was dit iets vreemds. My arme man sal alleen by die huis moet klaarkom. En na my vorige hospitaal kuier, was ek nie seker wat om te verwag nie. Nadat Lisa ingesettle is, is ek en my man huistoe vir die laaste keer as net ek en hy.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s