17. Vet babas in Wimpy

11128_10154990117740179_2496186777752170661_n

Die week wat volg was nogals ‘n moeilike een. My pa moes terug gaan werk toe en ek moes self hospitaal toe ry. My sny was eina, maar ek kon darem die pedale trap sonder om te veel pyn te hê. Ek het elke dag hospitaal toe gegaan en nou bietjie langer gebly. Ek het die personeel in die NICU beter leer ken en aangesien ek Lisa nou kon Kangaroo, het ek soveel moontlik tyd daar spandeer.

Ek was nou al gewoond aan die roetine en het gevoel asof ek nou weer reg is vir die volgende terugslag. Ek het sterk gevoel en het dit selfs geniet om in die NICU te wees en met die susters te gesels en om almal se stories te hoor. Die Dinsdag het dinge begin sleg gaan. Dit het alles gebeur wanneer ek Lisa optel. Eerstens is dit nogal ‘n proses op sy eie…jy moet haar ontkoppel van die hittemonitor in die incubator, jy moet ‘n mussie vir haar aansit, jy moet ‘n kombersie reghê, jy moet die incubator op ‘n ander stelsel sit (deur die druk van so paar knoppies),  jy moet haar onder jou hemp indruk totdat sy rustig lê en dan ook op een of ander manier die incubator toemaak. Die susters wys jou net een keer en daarna moet jy als self doen.

Sodra ons net rustig raak, begin haar SATS monitor se alarms afgaan. Die SATS monitor meet die hoeveelheid suurstof wat deur die babatjie se liggaam beweeg. Dit is so monitortjie wat aan hulle voetjie gekoppel is met so rooi liggie. Normale mense se SATS moet tussen 95 en 100% wees. Prem babatjies se SATS is normaalweg enige iets tussen 80 en 90%. Indien dit onder 70% gaan, gaan daar ‘n alarm af. Enige iets onder 60% word as gevaarlik gesien. Die dokters het ook vir my verduidelik as hulle langer as 7 of 8 minute onder 60% bly, is die kanse dat hulle kan blind wees baie hoog.

Elke keer wat haar SATS alarm afgaan, kom kyk die suster of sy ok is. Indien sy ok is, los hulle haar nog so paar sekondes om te kyk of dit self stabiliseer en regkom. Indien dit nie regkom nie, moet jy haar so gou as moontlik terug in die incubator kry en dan draai hulle haar op haar maag en lig haar so bietjie op en dan kom dit weer gewoonlik weer reg.

Ek het dit gehaat! Ek wou haar so graag vashou want ek het geweet hoe belangrik daardie Skin-to-skin vir haar ontwikkeling en groei is. Maar terselfdetyd wil ek verseker nie hê sy moet ophou asem haal en blind wees nie. Dit was vir my bitter erg. Elke keer dan sê die suster dat ons haar vir ‘n paar minute moet los en dan oor so halfuur probeer ons weer. Net sodra ons weer probeer, gebeur dit maar net weer. Ek wou haar later nie meer optel nie.

Die susters het my heeltyd aangemoedig om aan te hou en elke keer weer te probeer, maar elke keer gebeur dit. Ek het later so gestres, dat ek bietjie om die hospitaal gaan stap het om vars lug en asem te skep. En ook om my mindset reg te kry, want ek wou nie hê sy moes my ongemaklikheid aanvoel nie. Teen namiddag het ek besluit genoeg is genoeg en ek is met trane in my oë al die pad huistoe. Dis snaaks hoe mens so kan veg teen huil. Ek onthou hoe ek omtrent nie die pad kon sien nie, want daar was soveel trane in my oë, maar ek het myself nie toegelaat om te huil nie.

Ek het besluit ek kort ‘n “pick me upper” en het by Wimpy (van alle plekke) gestop vir ‘n milkshake. Dit sal my verseker laat beter voel. Daar was min mense in Wimpy. En ek is vinnig gehelp. Binne sekondes het die 5 tafels rondom my volgeraak. En sowaar…4 van die 5 tafels was mammas met babas…Vet babas…babas met dubbelkenne en rimpels om hulle arms. Die een ma het ‘n bottel uitgehaal en het haar baba begin voer. Ek het gesien dat daar 180ml melk in die bottel was. En skielik, sonder enige regte rede…verloor ek dit.

Ek het R50 (veel meer as wat die milkshake… wat ek toe nog nie eers gedrink het nie…gekos het) op die tafel gelos en ek het kar toe gestorm. Ek het net betyds die deur toegemaak en toe tjank ek. Dit was verseker nie ‘n huil nie. Dit was dierlik en onbeheers. Hier sit ek…met ‘n baba wat 4ml elke twee ure drink…wat kleiner is as my warmwatersak…wat ek nie kan vashou sonder dat sy ophou asemhaal nie…en vir die eerste keer vandat Lisa gebore is, kry ek myself jammer.

Ek wil ook ‘n normale babatjie hê. Ek wil ook in Wimpy kan sit en my vet baba vir almal kan wys. Ek wil ook ‘n bottel melk vir haar kan gee. Ek wil ook saam met my vriendinne en hulle vet babas gaan koffie drink en lag en skinder en oo en aa. Ek wil ook net my babatjie kan vashou sonder om enige oomblik te dink sy gaan breek of blind raak of ophou asem haal.

Ek skrik groot toe die car guard aan my venster klop en vra of ek ok is. Ek knik en druk ‘n glimlag uit. Ek ruk myself reg en skakel die motor aan en ry huis toe. En op daardie oomblik voel ek beter en rustiger en minder kwaad. Partykeer moet ‘n mens dit maar ‘n bietjie verloor.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s