8. post op

10532344_10154990118250179_6566651631125905498_nEk kan eers weer onthou toe ek in ‘n herstelkamer wakker word. My man is daar en die dokters staan om my bed. Hulle sê die baba is gebore, maar baie klein. Sy weeg 850g en is op suurstof om asem te haal. Hulle neem toe my man na die NICU om hom te gaan wys waar die babatjie is. Ek onthou hoe ek gedink het hoe swaar 850g is…en dat ek dit nie kon indink nie. Hoe lyk ‘n baba van 850g?

Ek wou haar so graag sien, maar daardie aand is ek gelos om te slaap. Ek onthou hoe vreeslik droog my keel was en dat ek sulke roggel geluide gemaak het wat my wakker laat skrik het. Ek was dors en daar was geen knoppie om te druk nie. Ek het geroep totdat ‘n verpleegster inkom. Sy sê toe vir my dat daar nie glase beskikbaar is nie. Daar is ‘n kraan in ons kamer, maar ek kon nie bykom nie. Ek was nog nooit so dors nie en die suster bring toe vir my ‘n leë Fanta blikkie wat sy uitspoel en vol water maak. Ek weet tot vandag nie waar sy daardie blikkie gekry het nie, maar ek het maar net oë toegemaak en gedrink.

Die volgende oggend het ek agtergekom dat dit nogal seer is om ‘n keiser te hê. En die Panado’s wat ek elke 4 ure gekry het, het rêrig eintlik niks gehelp nie. Ek het heeltyd net gewonder wanneer iemand my gaan vat om my babatjie te sien. Ek het my selfoon saam met my man huis toe gestuur, want ek was te bang iemand steel dit. So ek het maar net gewag. Die verpleegsters het gesê ek moet wag vir die dokters om my wond te kom sien voordat ek mag afgaan NICU toe. Dit was aaklig. Ek wou weet hoe groot sy is. Ek wou weet of sy die nag oorleef het. Ek wou net weet hoe dit met haar gaan.

‘n Paar ure later het die verpleegster ‘n bak warm water en ‘n waslap op my bed neergesit en gesê: “You need to wash yourself now.” Ek het weer daardie “HUH” gevoel gehad wat ek teen die tyd nou al redelik goed leer ken het. Ek het sukkelend probeer regop kom en dit was baie seer. Ek het so soortvan gewas…maar dink nie ek sal dit eintlik as “was” klassifiseer nie. Dit was te seer en ek het nie geweet waar om te was nie. Ek onthou hoe ek gedink het dat ek maar more kan was en dat ek maar net die bloederigheid van my bene probeer afvee het. Maar ook net tot waar ek kon bykom sonder om te ver oor te buk.

Nog ‘n paar ure later het die dokter na my sny kom kyk. Ek het gedink dit was voor die tyd seer en toe trek die dokter met een trek daardie pleister af. Hulle het my nie in teater geskeer nie, so ek kry toe sommer ‘n wax so saam met die keiser. Ek onthou hoe die een steek aan die pleister vasgesit het, en hoe my hart so oomblik gestop het toe hy daaraan ruk. ‘n Nuwe tipe seer wat ek tot dusver nog nie ervaar het nie. My sny lyk glo goed. Ek was te seer om te buig om dit te sien en hoe sal ek nou in elk geval weet wanneer ‘n sny goed lyk, so ek het maar sy woord  daarvoor gevat.

So ‘n halfuur daarna het ‘n jong pediater by die kamer ingestap met ‘n leë purity botteltjie. Sy het die bottel vir my gegee en gesê: “Hi, Your baby desperately needs your milk to survive. Please express milk and bring it to us in NICU.” My mond het nog oopgegaan om te vra hoe ‘n mens express en of my babatjie lewe, maar sy is uit die kamer voor ek die kans gekry het. Daardie HUH!? gevoel het weer opgekom.

‘n Verpleegster het toe later vir my kom wys hoe om met die hand te express. Sy het my kolostrum met ‘n inspuiting naald gevang en sy was so sag en rustig met my. Sy het verduidelik dat selfs ‘n druppel melk amazing was. Sy het my gerus gestel dat als ok gaan wees en sy was net wonderlik…nog ‘n engelmens.

Ek kon nie wag om NICU toe te gaan om ons babatjie te sien nie. Toe ek opstaan voel ek net vreeslik duiselig. Ek wil net omkap. Seker al die bloed wat ek verloor het. En op daardie presiese oomblik stap nog ‘n engel by die deur in. Een van my man se ander familielede wat hoog op is in die verpleegkunde-wêreld. Sy het gehoor ek is daar en wou net kom inloer. Op die presiese oomblik wat ek haar nodig het. Daar is nie rolstoele op die vloer nie, maar sy ken die matrone wat toe sommer vir my ‘n splinternuwe rolstoel gaan uithaal uit ‘n pakkamer iewers. En so word ek toe in styl ge-escort na die NICU. Die Here weet net wie wanneer op mens se pad te stuur.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s