7. Die groot dag met die piepklein uitslag

10363871_10154990118425179_746521708157151715_nDonderdag 12 Junie het aangebreek en ek het heeltemal normaal gevoel. Ek het bietjie rondgeloop, gerus en tydskrifte gelees. Besoektyd was 4-5 en my man het gesê hy gaan nie die middag daar kan wees nie, maar sy tannie kom vir my kuier. Die dokters het 3 uur hulle rondtes gedoen en was net by ons kamer uit. Ek het gou opgestaan om my tande te borsel en my hare te vleg sodat ek darem nie te sleg lyk as die tannie opdaag nie. Ek het net my hare gevleg en my tandeborsel opgetel toe voel ek net hoe piepie ek in my broek. Ek kon dit nie glo nie. Ek is amper 30 en ek piepie in my broek!? Seriously…wat nou nog?

Toe ek af kyk sien ek net bloed. Bloedrooi bloed. En baie bloed. En ek voel net hoe die bloed nie ophou vloei nie…dit kom net. Ek het ‘n soort bonatuurlike kalmte oor my voel kom en het rustig in die gang afgestap en gevra dat die suster die dokter moet roep. Binne ‘n paar sekondes was daar 7 dokters om my bed. Die susters was besig om my broek af te knip en om my te prep vir teater. Die dokters het vreeslik gesukkel om ‘n aar te kry vir die drip, want my liggaam het vreeslik opgeswel en hulle het seker 6 keer probeer. Die een oulike doktertjie het heeltyd jammer gesê elke keer wat hy die naald insteek.

Die een dokter het my vertel wat aan die gebeur is en skielik was ek bang. Nie bang soos in ‘n spookstorie nie…Bang-bang, Doodbang. ‘n Gevoel wat ek nog nooit ervaar het nie. Hy vertel my dat dit nou die komplikasie is waarvoor ons gewag het. Dat my plasenta geskeur het. Hulle prep my nou vir ‘n noodkeieser en hulle gaan my man nou laat kom. Ek het gevra of ek self met hom kan praat, want ek weet hoe paniekerig hy sal wees as iemand anders vir hom sê. Dit is so 50 minute se ry en ek wil hê hy moet veilig by my uitkom.

Op daardie presiese oomblik stap die tannie wat besoektyd kom kuier by die kamer in. Sy moes maar net help. Sy het al my goed opgepak en bymekaar gesit. Sy het gesê sy sal wag tot my man kom. Ek het eers later uitgevind dat sy gebly het tot lank na Lisa al gebore was. Engelmens…een van vele.

Die dokter lees toe ‘n lys van moontlike komplikasies vir my uit. Als wat moontlik met my baba verkeerd kan gaan…Sy kan blind wees, Sy gaan heel moontlik nie normale breinontwikkeling hê nie, haar organe gaan moontlik onderontwikkel wees, sy gaan verskeie ontwikkelings probleme hê, ens. Toe ek vra of sy ok gaan wees sê die dokter net: “I don’t know…she is really very small.”En op daardie noot, stoot hulle my by die kamer uit. Ek het die vrees op die ander meisies in die kamer se gesig gesien en ek was dankbaar dat ek nie my eie gesig kon sien nie.

Iets ongeloofliks gebeur toe met my. Twee groot swart vrouens stoot my bed by die hysbak in. Ek was altesaam 2 maande in die hospitaal en het hulle nog nooit weer gesien nie. Die oomblik toe die deure van die hysbak toegaan en ek probeer sin maak van alles wat rondom my aangaan, vra die een vrou: “Can we pray for your baby?” Ek bars toe uit in trane en kon op daardie stadium net ‘n knip van my kop uitkry. Hulle plaas toe hulle hande op my voorkop en op my maag. Die vrou bid toe en breek alles wat die dokter nou net gesê het af. Sy bid dat hierdie babatjie sal kan sien, dat sy normaal gaan wees, dat sy die regte mediese sorg sal kry, dat sy mooi sal wees, dat sy slim sal wees en dat sy ons lewens sal seën. Tot vandag toe glo ek vas dat daardie twee vrouens regte engele was.

Hulle het my ingestoot by soort van ‘n wagsaal. Dit is waar mens wag vir teater. Ek het vreeslike steekpyne gekry. Dit was vrek seer en ek mag nie beweeg het nie. Elke keer as ek beweeg, skuif die hartmonitor en dan kon ons nie hoor of babatjie nog ok is nie. Na die tyd het ek gehoor dit was kontraksies…nice to know vir toekomsplanne. My man het opgedaag en sy gesig was net so gespanne soos myne. Die dokter het met hom in die gang gepraat en verduidelik wat aan die gebeur is.

Dit het gevoel soos ‘n leeftyd se wag. Ek het heeltyd nog gevoel hoe bloed by my uitvloei en hulle het gedurig my linen savers verander. Die nageboorte wat toe voorgeboorte raak. Ek moes harder sukkel om te hoor of ek nog die baba se hartkloppie kon hoor, want dit het al hoe sagter geword. Ek het die dokter gevra of sy nog ok is…en sy antwoord het my geruk. Al wat hy gesê het was: “Ons red haar nie meer nie, ons red jou nou eers.” Vir die eerste keer in hierdie hele storie was ek self nie seker of ek dit gaan maak nie. Die feit dat hulle meer bekommerd was oor my lewe, terwyl ek slegs gedink het ons kan die baba verloor, het my rerig onstel. Ek het maar net gebid, want dis al wat ek oorgehad het om te doen.

Ek het die snydokter ontmoet. Sy het kom kennis maak. Sy was baie jonk, kort en het rooi hare. Sy het met ‘n Red Bull by die kamer ingestap. Sy het my aan die narkotiseerder voorgestel en hulle het aan my verduidelik hoe die keiser gaan werk. Hulle het gesê ek is ‘n goeie kandidaat vir ‘n Epiduraal/Spinaal (kan nie heeltemal onthou nie) en ek het vorms geteken. My man moes inscrub en buite wag terwyl hulle my regkry.

Dit was 19h40 en dit was yskoud in die teater. My liggaam het geruk van koue en ek is oorgeskuif op die yskoue metaaltafel. Ek is voorgestel aan die res van die teater personeel en die pediaters het reggestaan met ‘n incubator. Hulle het 3 keer probeer om die lang naald in my rug te steek en elke keer het dit nie gewerk nie. Hulle besluit toe om my liewer onder algehele narkose te sit, want ons kon nie meer tyd mors nie. My man is gesê om my te kom groet, maar hy is nie verder toegelaat om in die teater te wees nie.

Ek onthou hoe broos en moeg ek gevoel het. Dit is amper asof mens emosioneel heeltemal afgeplat voel. Asof daar soveel emosies is, dat mens eintlik niks voel nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s