Genade, genesing, geloof en God

1Q1A6039 copySoveel mense het my die afgelope maand uitgevra oor hoe anders dit is om ‘n voltermyn baba na ‘n prem te hê. Dis so moeilik om die “anders” te beskryf, want dit het soos twee heeltemal verskillende, amper onvergelykbare, ervarings gevoel. Wat ek wel weet is dat hierdie hele tweede swangerskap sowel as geboorteproses my hart heel gemaak het. Dit het genesing gebring waar ek nie eers bewus was dat dit nog rou en eina was nie.

Lisa se swangerskap was gevul met vreugde en opwinding waar hierdie een gevul was met vrees en afwagting vir iets negatiefs om te gebeur. Elke besoek aan die dokter was anders, want in plaas van bloot opgewonde wees oor wat hulle elke keer sê, was ek senuweeagtig en het die bloeddrukmasjientjie met valksoë dopgehou. Fisies was ek die keer nie so erg naar en moeg nie, ek het rekmerke gekry, maar my voete was nooit geswel nie. Die derde trimester is rof op jou lyf, maar dit was spesiaal om dit die keer te kon beleef.

Aangesien my hospitaalsak en babakamer nie eers amper gereed was met Lisa nie, het ek hierdie keer seker gemaak alles is gedoen voor 28 weke. Ons het ons maternity shoot op 28 weke gehad, die babakamer was op 27 weke gereed en ons het selfs die keer ‘n babyshower gehad. My sak was al van 25 weke gepak en ek het elke week daarna seker gemaak dat ek die keer alles in het. Hierdie klein goedjies het my soveel genot gegee. Dis die klein goedjies waarop mens uitmis met ‘n prem wat mens laat voel asof daar iets van jou gesteel is. My babyshower en maternity shoot was twee groot goed vir my en om hierdie keer die voorreg te hê om dit te kon doen, het my hart warm en vol oorloop-emosies gelos.

Die donker, koue aand van Lisa se geboorte is die keer vervang met ‘n warm, sonnige oggend. Die gejaag van die verpleegsters en dokters voor die teater het verander in rustige, kalm mediese personeel. Die koue teater is vervang met ‘n ligte, warm vertrek. Die stres en bekommerde gesigte van die teaterpersoneel het die keer dokters met grappies en ontspanne glimlagte ingehou. In ruil vir vrees het ek hierdie keer vrede en ‘n oorweldigende golf van genade ervaar.

Met Lisa het die spinaal 3 keer nie gewerk nie en moes ek toe onder algehele narkose gesit word. Dit was seker een van die goed waarvoor ek hierdie keer die bangste was. Maar God ken my hart en die spinaal het sommer eerste keer gewerk en toe die warm gevoel deur my rug afrol en my bene lam raak, was my hart ook sommer lam. Dit het veroorsaak dat my man die keer nie vir my hoef te kom ‘groet’ nie, maar dat hy langs my kon sit en my hand kon vashou. Ons kon saam in mekaar se oë kyk en saam die onsekerheid, trots, ongeloof van die oomblik en dankbaarheid in mekaar se woordelose uitdrukkings en senuweeagtige glimlagte lees.

2018-01-16 12.22.16

Die oomblik toe ek Dian vir die eerste keer sien, is deur die narkotiseerder vasgevang en dit is ‘n foto wat ek vir ewig sal koester. Hierdie vet en groot baba wat ek kon sien het trane in my oë laat skiet. Vir Lisa kon ek eers die volgende dag sien en dit was in ‘n NICU vol masjiene en pype. Dian het gehuil en was groter as net die handjie vol wat Lisa was. Die 850g is vervang met 3.54 kg. KILOGRAM is so ‘n lekker woord vir enige prem mamma. Selfs die woord is groter en vetter as ‘’gram’’.

Na die operasie kon ek hierdie keer dadelik my seuntjie vashou en borsvoed. Dit klink so eenvoudig, maar as jy 2 weke moes wag om jou eerste kind vas te hou en meer as ‘n maand moes sukkel  voor jy kon borsvoed, is hierdie goed veel groter. Dit het onwerklik gevoel en dit het gevoel asof alles net so maklik is. Ek het in daardie oomblik net heeltyd gedink hoe ongelooflik geseënd ons is.

Daar was die keer geen ver stap na ‘n NICU toe nie. Om jou kind te sien was so eenvoudig as om links te kyk en siedaar. Daar lê ‘n perfek gevormde babatjie langs jou bed…sonder pype of monitors. Ek het heeltyd gevoel dat hy HUGE is en hoe lekker dit is om ‘n vet babatjie te kon vashou is iets wat “normale”mense nie sal verstaan nie. Kuiergaste kon die keer dadelik in ons vreugde kom deel en hoef nie maande te wag om jou kind te sien nie.

Om na twee dae ontslaan te raak en om uit te stap met ‘n baba wat in ‘n karstoeltjie pas, is ook iets wat ons vir die eerste keer ervaar het. Om nie elke twee ure melk te pomp by die huis nie was ook veel makliker. Om nie saam met elke voeding ‘n spuitnaald vol medisyne by te gee nie, is soveel eenvoudiger. Al wat ek die keer moes doen was voed. Om ‘n wind uit te kry, vryf mens net sy ruggie…geen ure se sukkel met cupfeeding nie. En dan slaap hy (waarookal jy hom neersit). Lisa wou nooit slaap nie. En as sy wel slaap, was dit net op my bors.

Om op te som, ‘n voltermynbaba is MAKLIK. En ‘n voltermynbaba bring genesing wat in groot golwe op jou toesak. Dit versterk geloof en maak mens opreg weer dankbaar vir ‘n onbeskryflike, liefdevolle, groot en sterk God wat ons dien. Ja, hierdie was sowaar ANDERS…veel anders.

2018-01-16 12.20.36

Advertisements

‘n Briefie vir jou voor boeta kom.

8.JPG
Vanaand terwyl ek langs jou in jou bed lê en wag dat jy slaap, sukkel ek om die trane terug te hou. Die laaste keer wat ek rustig net aan jou kan dink rondom slaaptyd. As ek weer langs jou lê is daar ‘n boetie wat my aandag gaan nodig hê. En my hart ruk ‘n bietjie as ek dink dat jy ok daarmee moet wees om my te moet deel.

Ek is so dankbaar dat jy opgewonde is oor boetie se koms. Dat jy elke dag vir hom drukkies en soentjies in my maag gee…dat jy saam die slapies aftel …dat jy verstaan het as mamma nie kon hardloop of rofspeel nie…dat jy vir almal vertel van hom en waarmee jy my als gaan help.

Ek weet jy sal ok wees, want jy is mos ‘n warrior princess. Maar vanaand terwyl jy rustig lê, is ek hartseer. Dis seker ook 39 weke se hormone wat opgebou het, maar my trane rol omdat ek jou so baie liefhet. My hartswens is dat jy altyd sal weet dat jy spesiaal is en dat jy altyd my babatjie sal bly. Ek glo dat jy sal leer verstaan dat jy vir my baie belangrik is al kan ek nie altyd vir jou al my tyd gee nie.

Ek weet nie hoe ek ‘n ander mens so lief kan kry soos vir jou nie, maar die kamers van my hart sal moet groei om plek te maak vir boeta.

Slaap rustig vanaand my engelkind. En dankie dat jy so ongelooflike dogtertjie is. Jy is een van die sterkste mense wat ek ken en jy is nou eers 3! Ek hoop jou nuwe boetie is net so cool soos jy en dat jy hom sal liefhê en dat jy hom als wat jy ken sal leer. As hy 5% van jou in hom het, gaan hy ‘n kiff outjie wees. Lief vir jou…my eerste babatjie…oneindig baie.

 

 

95. Voetsek EGO!

images (1)

Partykeer hoor jy ‘n sagte stemmetjie wat hier van jou skouer af vir jou fluister as jy verkeerd is, maar soms is mens se eie ego in die pad en jy hoor eers daai stemmetjie as dit ‘n harde hou agter die kop is.  En my kop is nou nog bietjie seer van die laaste hou wat ek ontvang het.

Ek maak so ‘n week terug vir ons aandete en ek dink laat ek bietjie daardie “perfekte” pinterest ma wees. Ek verander Lisa se bord in ‘n mini-meesterstuk. Haar kos is ‘n klein Picasso-katjie met worsies vir snorbaarde en broodjies in perfekte driehoekies gesny as ore. Komkommer vir ogies met tamatiesous as neus. En toe MOET ek natuurlik ‘n foto neem sodat ek vir ander ma’s op Facebook en Instagram kan wys dat ek darem nie te sleg vaar met die ma ding nie. Dat ek ook “perfek” is en kan kompeteer op ‘n sosiale vlak.

Ek kry gou my foon en nes ek die kameraknoppie druk, skakel my hele foon sommer af…so af dat ek die battery moet uithaal en weer moet reboot. Maar ek luister nie vir die stemmetjie wat vra hoekom ek werklik ‘n foto wil neem nie. En ek probeer weer. DRIE keer maak my foon so. En dis eers na die derde keer wat ek my foon sommer neergooi en die kos voor Lisa neerplak, dat ek bietjie luister.

Hoekom op dees aarde sal ek my ego so wil streel om dit op sosiale media te deel?! Sal dit my vriende wie se kinders (soos myne die vorige aand) daardie aand Flings vir aandete gekry het, laat beter voel?! Sal die likes en comments wat so foto kry enigsins meer werd wees as die vreugde op Lisa se gesig terwyl sy ‘n katjie kan opeet?!

En dis toe dat die hou my tref. Soos die vlieëplak as ma nie betyds die plakkie van haar voet af kon kry nie. Ek streef om my eie ego op te bou. In vandag se wêreld wat deur pinterest-ma’s gebombardeer word, het die druk my ook gevang. En vir wat!? Ek is tog ‘n goeie ma. Ek weet dit omdat my kind vir my lief is en omdat sy redelik aangepas in die samelewing funksioneer. Hoekom sal ‘n paar comments en likes dit vir my moet sê? Sekerlik is die feit dat Lisa nog lewe en dat sy oulik is genoeg bewys dat sy ‘n ma het wat omgee en wat vir haar lief is.

Vandag is my wens dat elke ma daar buite sal besef dat daardie perfekte ma nie bestaan nie. Dat daar ‘n miljoen maniere is om ‘n goeie ma te wees en dat ‘n katjie uit kos jou nie ‘n beter ma maak as ‘n peanut butter toebie nie. Mag jou ego vandag gestreel word wanneer jou kind vir jou kom nagsê, of wanneer hulle voor ete wil bid. Mag jou hart warm raak wanneer hulle asseblief en dankie sê en mag jy soos die goeie ma wat jy is, voel!

fdfcd484ba38ab8f7d8a4a6b676007b0

 

94. Diep Donker PERS

20171117_070232.jpg

Vandag is World Prematurity Awareness Day en natuurlik dra ek vandag pers. In die verlede het ek op hierdie dag lig gevoel. Lig omdat Lisa lewe. Lig omdat sy geen ernstige mediese kondisies het nie. Lig omdat ek ‘n oulike 3 jarige het wat monkey bars doen en swem. Lig omdat ek wonderlike mediese personeel op hierdie pad ontmoet het en dankbaar vir ware vriende wat ek gemaak het. Maar vandag voel my hart ‘n donker en diep pers.

Ek dink aan my vriendin wat ‘n tweeling verwag het wat op 28 weke gebore is. My hart is so dankbaar dat sy een gesonde lieflike klein poppie huis toe kon neem, maar ek kry trane in my oë omdat sy haar ander dogtertjie nooit kon leer ken nie.

Ek dink aan ‘n goeie maatjie wat op 24 weke moes sien hoe haar seuntjie sy eerste en laaste asem in neem. Ek is ook dankbaar dat sy tans ‘n dogtertjie verwag, maar my hart sien vandag weer vir die soveelste keer haar hartseer raak.

Ek dink aan die naamlose vrou wie se babatjie in die NICU langs Lisa was. Daai piepklein lyfie wat net een oggend skielik nie meer daar was nie.

Ek dink aan ‘n mamma wat ek deur ons storie op Facebook ontmoet het wat na 9 maande nogsteeds met haar kleintjie in die hospitaal is. NEGE MAANDE van elke dag in ry. Van elke dag sien hoe jou klein vegtertjie moet baklei. Van bang wees en bid. Van glo en hoop en vertrou dat die volgende dag beter sal wees.

Ek dink aan die ongelooflike spesialiste wat daagliks moet sien hoe van hierdie kleintjies dit onder hulle sorg nie maak nie. Hoe pediaters en susters elke dag doen wat hulle doen om hierdie kleintjies te red, weet ek werklik nie.

En vandag dra ek pers nie net vir die prem babatjies wat oral om ons rondloop en leef nie, maar ek dra pers vir die wat dit nooit huis toe gemaak het nie. Ek dra vandag op aan hulle mammas en pappas wat nie ‘n foto van hulle wonderwerkbaba op Facebook kan plaas nie. Ek bid vandag dat julle harte sal heelword

Vandag ondersteun ek die www.newborns.org.za van Grootte Schuur Hospitaal www.facebook.com/newbornstrustSA Ek dra my armbandjie en koop my sticker. Elke bietjie wat hulle kry, gaan om te sorg dat daar meer babatjies huis toe kom en dat die donkerpers weer lig word.

20171116_140203

 

 

93. #metoo

metoo

Hierdie week het die #metoo sosiale netwerke oorgeneem en dit is met gemengde gevoelens wat ek vandag skryf. Aan die een kant is ek opgewonde om te sien hoeveel mense bereid is om ‘n publieke standpunt in te neem en #metoo te laat vlamvat en aan die ander kant maak dit my hartseer om te sien dat daar soveel mense is wat deur seksuele teistering geraak word.

Mense sien my as ‘n hardegat, sterk mens. Iemand wat mens met handskoene moet aanpak. Ek is glad nie op my bek geval nie, praat veels te veel en neem soms sterker standpunt in as wat nodig is. En dit is dalk juis as gevolg hiervan wat ek nog nie my eie #metoo storie met mense gedeel het nie. Dis asof ek magteloos gelaat is en ek het swak gevoel. Dit het my skaam gemaak en ek het geen idee hoekom nie, want ek het tog nie iets verkeerd gedoen nie. Maar dit is juis wat hierdie veldtog so spesiaal maak. Dit gee ons die vertroue terug en gee ons die geleentheid om te praat oor die duiwels wat ons vir jare in die kas weggesteek het.

Toe ek in gr. 8 was, is ek vir die eerste maal blootgestel aan die seksuele wêreld daar buite. Ek is van die gelukkiges wat in ‘n beskermde huis grootgeword het en ek tel my sëeninge dat so iets eers in gr. 8 met my gebeur het. Ek het huis toe gestap toe ‘n blou BMW langs my stilgehou het. Die man het gevra vir rigtingaanwysings. Toe ek nader kom, sien ek dat sy broek los is en dat hy besig om is sy privaatdele te vryf soos hy my my praat. Ek het onmiddellik gebloos en dit het my heeltemal omkant gegooi. Ek het so vinnig huis toe gestap en vir niemand daarvan vertel nie, maar ek onthou tot vandag nog wat hy aangehad het en hoe hy geruik het. Dit was nommer 1.

Nommer 2-192 is die rede hoekom ek vir lank nooit rokkies gedra het nie. Ek was mooi gebou toe ek nog gedans het en as ek enigsins mooi vroulik aangetrek het of lipstiffie aangesit het, was die wolwefluite op pad klas toe of op pad winkel toe altyd daar. Ek het die onaanvaarbare aanmerkings probeer aflag en het gemaak asof dit my nie pla nie, maar dit het in my agterkop vasgesit. Dit het my ongemaklik gemaak en ek liewer my jeans en t-shirts gedra. Ek sukkel steeds om ‘n werklike kompliment van ‘n man as opreg te aanvaar (en ek vermy steeds lipstiffie).

As ek luister na mense se stories, sien ek myself as gelukkig dat ek “nice” ouens gehad het op universiteit en dat ek nooit in enige seksuele situasies bevind het nie. Toe ek begin werk het, het ek ‘n outjie ontmoet. Hy was goed gebou en rugby was sy lewe. Ek het geweet dis nie my trouman nie, maar ek was jonk en ons het vir so 2 maande uitgegaan. Ek was voor die tyd met hom eerlik en het gesê dat seks voor die huwelik nie iets is waarin ek belangstel nie. Hy het dit respekteer en was ok daarmee alhoewel hy al vele seksuele verhoudings gehad het. Hy het my gereeld gedruk vir seks en ek het altyd net weggebly en dit dood gepraat.

Een aand in my woonstel het hy my ewe skielik hardhandig vasgevat. Hy het my teen die kas vasgedruk en ek kon sy asem in my nek voel. Vir die eerste keer (op 22…gelukkig soos ek al gesê het), was ek bang vir ‘n man. Hy was sterker as ek en my vroulikheid het my ongelooflik broos laat voel. Ek onthou hoe hy my hande vasgedruk het totdat dit seer was en ek onthou hoe dit my laat voel het. ‘n Soort lamheid wat ek nie kan verduidelik nie. Ek het hom op een of ander bonatuurlike manier van my af weggestoot en hom uitgeskop. Dit kon soveel anders verloop het en daarvoor is ek dankbaar. En skielik verstaan ek hoeveel soveel vrouens mans haat. Hoekom hulle nooit in ‘n huwelik wil wees nie. Hoekom hulle nie vertroue het nie. Dit was nommer 3 (of 193)

My #metoo storie voel klein en glad nie so erg nie. Ek is nie verkrag nie; ek is nie molesteer nie, maar dit is juis wat #metoo so spesiaal maak. Ons MOET praat oor goed wat agter toe deure gebeur. Ons MOET ons stories (groot of klein) deel. Ons MOET hierdie donker goed in die lig bring en dit aanspreek. Genoeg is genoeg. Ek #metoo vandag sodat Lisa dit nooit hoef te doen nie!

e1e135dc6772a69ee26402a1fe79de9b--human-trafficking-quotes-wise-quotes

 

92. Onderklere onderonsie

onderklereEk is nie een wat vreeslik gepla is oor wat ander mense van my dink nie en dans redelik op musiek wat meeste mense nie eers kan hoor nie. Maar so ‘n paar jaar gelede het ek in die middel van die nag omgekap terwyl ek op die toilet sit.  Dit was vreeslik ongewoon en eintlik nogal snaaks, maar in die val het ek my neus gebreek.

Daardie oggend was my gesig opgeswel en blou en ek moes dokter toe gaan om te kyk wat hy aan my neus kon doen. Ek wou nie lyk soos ‘n aangerande of mishandelde vrou nie en het besluit om my mooiste rokkie aan te trek. Ek het so ‘n lang wit boobtube somersrok gekies. Dit skyn effens deur, so jy moet ‘n vleeskleurige pantie dra. Aangesien dit ook alles wys, kies ek so regte stepping-fietsry-spandex nommertjie wat sommer al die vet ook onder beheer hou. Die rok se boobtube deel is versterk, so ‘n bra is nie nodig nie. Ek haat bra-dra so dit pas my goed. Ek blaas my hare en sit make-up op die dele van my gesig wat nog reg is en siedaar…’n redelike agtermekaar vrou met ‘n blou neus stap by die deur uit.

Dis ‘n nuwe dokter en hy is veel aantrekliker en jonger as oudok Roux van my kinderdae. Hy het my bietjie uitgevra oor wat gebeur het en toe gesê dat hy nie veel aan my neus kon doen nie, maar dat die omkappery hom wel pla. Hy wil graag ‘n paar toetse doen om te kyk of daar iets fout is en gaan sommer nou dadelik ‘n E.K.G. doen. Dit was reg met my totdat hy my na ‘n kamertjie gevat het met ‘n klein nou bedjie en ‘n treadmill. Hy het gesê ek kan maar my bra en pantie aanhou en op die bed klim. Hy gaan net gou iets haal en dan kom plak hy die stickertjies op my bolyf. My hele lewe het verby my geflits, want o hel, doktertjie…weet jy waste pantie ek aanhet en om van ‘n bra nie eens te praat nie.

Ek het begin bloos en maar my mooi rok uitgetrek en in my fietsry-spandex besigheidjie op die bed geklim. Toe ek my kop so bietjie oplig om te kyk hoe ek lyk, sien ek hoe my een boob links af val en my ander boob regs hang. Ek sien hoe die vet wat deur die broek meestal ingedruk is, net onder my borste uitpeul en onder my bobene druk dat dit eintlik so wit vetrol maak. Ek het nie geweet waar om my blouneus-gesig weg te steek nie.

Die dokter het ingekom en was duidelik geskok, met ‘n effense grynslag op sy gesig. Hy het baie professioneel gebly alhoewel ek kon sien dis moeilik. Hy het my vetbroek so bietjie tot op my heupe afgerol om die stickers te plak. Met dié het my vet maagrolle bo-oor gerol soos ‘n klomp skoolkinders wat op die laaste dag van skool by die hoofhekke uitpeul.

Nog nooit was ek so skaam en ongemaklik nie, maar ek moes maar daar lê en die toetse klaarmaak. Ek is NOOIT weer terug na daardie arme doktertjie toe nie en nou maak ek seker ek trek altyd bypassende onderklere aan vir enige mediese afspraak. Selfs die tandarts kan maar kyk…want twee keer gaan hulle my nie vang nie.

91. Geblikte Gevoelens

gevoelens 2Dis vreemd hoe emosies op so ‘n manier werk dat dit jou hele lewe beïnvloed. As jy gelukkig voel, is alles sommer lekker. Die taxi kan maar voor jou indruk en jy stap met ‘n huppel in die besige winkelsentrum rond. As jy ontsteld is, deurtrek jou hele menswees weer negatiwiteit. Alles voel donker en swart en geduld word saam met die glimlag by die venster uitgegooi.

Ek is mal daaroor om gelukkig te wees. Ek probeer altyd die glas halfvol sien en ek is die ewige optimis. Al gaan dinge rof, is dit vir my belangrik om maar liewer ‘n glimlag op my gesig  te sit en die goed in die sleg te soek. Ek is nogal ‘n meester om negatiewe emosies te onderdruk en alhoewel my gesig nie altyd my emosies kan wegsteek nie, vee ek gou-gou die hartseer of onsteltenis af en sit maar weer my glimlag op. Ek dra nie baie grimering nie, maar maskers wel.

Die afgelope tyd het my emosies bietjie met my weggehol. Met hierdie tweede swangerskap het ek aan die begin vrees ervaar en ek het so ‘n klein bietjie van my hart openbaar in een van my vorige posts (89. Om te veel te weet…). En toe het ek besluit om die vrees te vervang met geloof. Geloof dat alles tydens hierdie swangerskap ok gaan wees. Geloof waarvan die Bybel ons tog leer en ek het beter gevoel. Al was die vrees net onderdruk, was ek steeds in my agterkop bang. Ek het wel vrede ervaar, maar vrees was verseker steeds daar.

Tydens ons 20 weke scan het hulle iets opgetel wat my risko vir pre-eklampsië en placenta abruptia weer verhoog. Ek het heeltyd geweet daar is ‘n kans vir die nagmerrie van my eerste swangerskap om weer te gebeur, maar het geglo dit gaan anders wees. En skielik is ek gekonfronteer met oorweldigende emosie. Ek het in my kop gesê ek is ok en maar weer die vrees in ‘n blik gedruk.

Terwyl die nuutste emosies in die blik was, is ek oorweldig met ander negatiewe goed wat om my gebeur. Ek het ‘n onnodige konfliksituasie by die werk met ‘n kollega gehad, ‘n kind het uit die bloute by die skool met my baklei en ek het ekstra stres met merkwerk gehad. Vir ‘n tydjie het ek gedink hierdie goed het niks met mekaar uit te waai nie, maar na ‘n koffie-klets met ‘n hartsvriendin het dinge begin in plek val.

Dis ek! Dis EK wat nie my negatiewe emosies in die gesig staar nie. Hoe meer ek die blik probeer toe hou, hoe meer peul dit uit en hoe meer negatiwiteit trek ek aan. En alhoewel positiwiteit en optimisme alles ongelooflike karaktertrekke is, moet ons soms ons gagga goed bietjie vasvat en tyd spandeer om jou hart toe te laat om werklik te voel.

En van nou af gaan ek probeer om elke emosie te ervaar. As ek opgewonde is, is ek opgewonde. As ek bang is, is ek bang. As ek sterk is, is ek sterk en as ek swak is, is ek swak. As jy my vra of ek ok is, sal ek vandag dalk sê “ja”, maar volgende week is dit dalk weer “nee”. Want dit is wat dit is. Ek is ok, maar ek is ook nie ok nie. En dit is ok.

gevoelens